Die Onafhanklike Polisie-ondersoek- direktoraat (Opod) ondersoek die dood van ‘n man van Genadendal, wat volgens berigte drie weke in die hospitaal deurgebring het nadat hy na bewering deur die plaaslike polisie aangerand is toe hulle hom in hegtenis geneem het.
Lede van die gemeenskap beweer dat nog mense intussen na bewering deur die polisie aangerand is terwyl die ondersoek na die beweerde polisie-aanranding en die omstandighede rakende Reagan Arendse se dood aan die gang is.
Volgens bronne was Arendse op 6 Junie in die oggend by sy vriend se huis toe vyf polisiemanne daar opdaag om hom weens ‘n diefstal-klag in hegtenis te neem. ‘n Familielid van Arendse het aan Hermanus Times vertel ‘n ooggetuie
het beweer die polisie het Arendse onder ‘n bed, waar hy weggekruip het, uitgesleep en hom toe verskeie kere geskop en op hom getrap.
Vyf polisiebeamptes, insluitend een wat blykbaar nié aan diens was nie, is na bewering betrokke.
“Hy was bewusteloos en vasgeboei toe hulle hom op sy maag uit die huis gesleep en in die vangwa gegooi het,” het die ooggetuie vertel.
Volgens die familielid is die man eers die aand per ambulans na die Caledon-hospitaal geneem en van daar na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. “Hy was in ‘n koma en die scans het gewys hy het swelling op die brein,” het die man bygevoeg.
In ‘n video wat kort ná die beweerde aanranding op sosiale media gedeel is, is kneusplekke, skraapmerke en wonde aan Arendse se kop duidelik sigbaar. Hy het ook skaafmerke en kneusplekke aan sy bene gehad en dit het gelyk asof albei sy oë toegeswel en blou is. Volgens die familielid is Arendse se ma verlede week deur die hospitaal gekontak.
“Die hospitaal het gesê sy kan hom kom haal of hy kan na die tehuis in Elim gestuur word. Ons het hom toe gaan haal, maar hy is kort daarna dood,” het die familielid vertel. Wat die Arendse-familie egter die meeste ontstel, is die feit dat die polisiebeamptes wat na bewering by die aanranding betrokke was, volgens berigte steeds werk.
“Wat ek nie verstaan nie is as ek iemand sou doodmaak, sal ek dadelik in die tronk gestop word, maar hierdie polisiemanne werk nog. Moes hulle nie tydelik geskors gewees het pending die uitslag van die ondersoek nie?” wou die een ontstoke familielid weet.
Hy het bygevoeg: “Die (betrokke) polisiemanne is almal boorlinge van Genaal. Dis ‘n klein dorpie waar almal vir almal ken, dus weet hulle presies wie is nie welaf nie en wie weet nie genoeg om die saak verder te vat as hulle aangerand word nie.”
Die man het ook beweer dat polisiebrutaliteit in Genadendal alledaags is. “Hulle dink niks daarvan om mense in die pad hul broeke te laat uittrek en die mense te deursoek nie. Dit tas mos jou menswaardigheid aan, maar wanneer mense hulle aanspreek, rand hulle die mense aan.”
Talle ander het hulle ook op sosiale media oor die beweerde polisie-aanrandings uitgespreek. In reaksie op een van die plasings op sosiale media oor Arendse se beweerde aanranding het een leser geskryf: “Hulle maak die mense so seer, dan kom hulle [die polisie] niks oor nie.”
Nog een het geskryf: “Die goed moet nie so gelos word nie. Hulle kom weg met baie dinge.”
Iemand anders se kommentaar was: “Ons polisiemanne rand mense baie keer aan. Hulle weet wat is reg en verkeerd.”
Een inwoner beweer die gemeenskap het ‘n paar maande gelede die beweerde polisie-brutaliteit tydens ‘n optog onder die plaaslike polisiebevelvoerder se aandag gebring, “maar niks het daarvan gekom nie”.
Lede van die gemeenskap het ook onlangs betoog met plakkate wat gelui het: “Genoeg is genoeg”, “Justice for Reagan”, “Bloed op jul hande” en “Protect and Serve”.
Inwoners van dié klein dorpie is tans besig om met behulp van die National Coloured Congres- politieke party geld in te samel om die familie te ondersteun en vir Arendse se begrafnis te betaal.
Die plaaslike polisie het alle navrae na die polisie se provinsiale kommunikasie-afdeling verwys, wat navrae op hul beurt na Opod verwys het.
‘n Woordvoerder vir Opod het bevestig die polisiewaghond ondersoek die voorval en gesê: “Ons kan bevestig dat die saak deur Opod ondersoek word. Ons kan in dié stadium egter nie verder
kommentaar lewer nie aangesien ons steeds besig is met die voorlopige ondersoek na die omstandighede van die beweerde voorval.”





