Louw Martin wys die gereedskap waarmee hulle na bewering mee gemartel is,

Bianca Du Plessis

Die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) stel ondersoek in nadat twee mans van Hawston na bewering deur lede van die polisie se teenbende-eenheid, wat op soek was na vuurwapens, met ’n hamer, piksteel en moersleutel aangerand is.

’n Rubberhamer met ’n blou steel, waarop die woorde “Happy Feet” geskryf staan, is na bewering gebruik om Enver “Arms” Louw herhaaldelik op die voete te slaan. Dié rubberhamer is later op die toneel gevind.

Louw en Denaleo Martin vertel die beweerde marteling deur lede van die teenbende-eenheid, wat maskers gedra het, het ongeveer twee ure geduur.

Volgens die twee mans het hulle verlede Sondag kort ná middernag in Louw se ouerhuis in Hawston gekuier toe hulle flitsligte buite die huis sien beweeg het.

“Toe ek hoor hoe hamer hulle aan die deur, het ek gesê dis die polisie,” vertel Louw.

Hy het sy neef, Reagan Louw, wakker gemaak, maar voordat hy die deur kon oopmaak, vertel Louw, het die polisie dit oopgeskop.

“Ek het ’n hou agter my kop gevoel, toe is ek flou. Ek het wakker geword toe hulle water op my gooi. Hulle het my met die rubberhamer teen die ribbes geslaan, onder my voete, bo-op my voete, my knieë, my maermerries, oral. As ek probeer opstaan, het hulle my geskop.”

Volgens Reagan het die polisie hom na die kombuis gevat en kon hy nie sien wat gebeur nie.

Martin sê die beamptes het hulle ingelig dat hulle vuurwapens soek.

Louw erken hy is onlangs uit die tronk vrygelaat, maar ontken enige kennis van vuurwapens wat in die huis versteek was.

Martin beweer hy, nog ’n man en twee vroue wat in die huis was, is ook aangerand. “Terwyl ons daar gelê het, kon ons hoor hoe destroy hulle die plek terwyl hulle dit deursoek,” vertel hy.

Dié beamptes, sê Martin, het gedreig dat hulle sal terugkeer.

“Toe ons ’n klop aan die deur hoor nadat hulle weg is, het ons gevrees dis weer hulle, maar dit was die Hermanus-polisie. Hulle het die ambulans gebel,” vertel Martin.

Louw se regterhand en albei voete was ten tyde van Hermanus Times se besoek verlede Vrydag steeds erg geswel en blou kolle bo-op, aan die kante en onder sy voete was nog duidelik sigbaar.

Volgens Louw het X-strale getoon dat van sy regter ribbes gekraak is. Martin het nie sigbare wonde gehad nie, maar het duidelik pyn verduur en gekla van sy liggaam wat seer is.

Louw se suster, Valmarie Marais, sê die familie oorweeg verdere stappe teen die polisie aangesien die skade wat aangerig is, aansienlik is.

Pragtige houtkaste was glo beskadig en dele van ’n houtpaneel was afgeruk.

“Wat hulle (die teenbende-eenheid) gedoen het, is nie reg nie en ons kan nie toelaat dat hulle daarmee wegkom nie,” het sy bygevoeg.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat Louw ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer en Martin ’n klagte van gewone aanranding aangemeld het.

“Die dossier is deur skof-lede geneem en die saak is aangestuur na Opod vir ondersoek,” het sy verduidelik.

Robbie Raburabu, Opod se woordvoerder, het bevestig dat die eenheid twee sake van aanranding teen polisiebeamptes ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article