Onderwysers, personeel en ouers van Swartberg Primêr in Caledon het Vrydagoggend (13 September) tussen 07:00 en 08:00 ’n betoging buite SAB asook by die ingang na die Hemel-en-Aarde-pad gehou in protes teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se beplande afskaffing van 2 407 onderwysposte volgende jaar.
Malinda Booysen, Swartberg Primêr se verteenwoordiger van die South African Democratic Teachers Union (SADTU), sê: “Ons het met plakkate gestaan om ons boodskap uit te kry. Wanneer poste by ’n skool afgeskaf word, word die werkslading groter. Eintlik het ons reeds oorvol klasse, en nou gaan dit nog erger word. Die uitdagings is verskriklik.
“Leerders sukkel reeds met leesbegrip en jy kry net nie tyd om aan alles aandag te gee nie. Veral die leerders wat sukkel, gaan dalk afgeskeep word. Ons het tans een onderwyser wat met siekteverlof is en ons kon nie die pos vul nie. Die gevolg is dat ons die vier graad 4-klasse drie gemaak het, en het nou meer as 50 leerders in ’n klas. Die volle personeel van grade 4-7 het elkeen ’n ekstra vak bygekry. Die uitdaging is regtig groot.”
Volgens Booysen word een pos by Swartberg gesny. Sy sê by ander skole in naburige dorpe word agt tot 12 poste gesny, waarvan sommige dié van departementshoofde is. “Hoeveel kinders moet jy dan in een klas akkommodeer? En gaan jy nog spesialis-onderwysers hê, veral in hoërskole waar leerders hul vakkeuses uitoefen?” vra Booysen.
Die betoging het gewis ’n invloed gehad met baie motoriste wat hul ondersteuning gewys het deur in die verbyry die toeter te blaas. Nog ’n betoging word vir Donderdag (19 September) tussen 07:00 en 08:00 beplan.





