Die polisie het op kreef en kreefsterte beslag gelê tydens ‘n patrollie in die Hermanus-omgewing.


Dit was tydens die bekendstelling van die feesplan duidelik dat Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassers tesame met ander rolspelers tydens die feestyd teenoor misdadigers gaan optree.

Op 14 Desember het die honde-eenheid tesame met die mariene-eenheid ag geslaan op klagtes van onwettige bedrywighede in die Hermanus-omgewing. Beamptes is ontplooi en tydens patrollie is daar gloeiende voorwerpe in die water opgemerk. By nadere ondersoek is daar op krewe afgekom wat sonder permitte gevang is. Drie verdagtes is in hegtenis geneem en die 412 krewe met ‘n geraamde waarde van R206 000, 16 kreefsterte met ‘n geraamde waarde van R5 120, ses ringnette met ‘n waarde van R3 000 en 1 vissersboot ter waarde van R70 000 is gekonfiskeer. 

Volgens Reagen Allen, Wes-Kaapse minister van polisie, moet die misdadigers weet dat daar ‘n sterk polisieteenwoordigheid aan die kus gaan wees. “Ons honde-eenheid tesame met ander rolspelers gaan hul kant bring om misdaad hok te slaan. Al is daar baie mense met vakansie vir hul welverdiende rus, gaan ons beamptes oor die provinsie heen misdaad help bekamp,” het Allen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article