Lede van die Overstrand-munisipaliteit se reaksie- en mariene-eenhede het op meer as 1 000 eenhede perlemoen sowel as ’n voertuig beslag gelê toe hulle verlede week ’n ongelukstoneel bygewoon het.
Dean O’Neill, die OM se munisipale bestuurder, sê die beamptes was Maandag 28 Augustus op die toneel naby Botrivier toe hulle altesaam 1 037 eenhede perlemoen in ’n wit Nissan Almera met GP-nommerplate ontdek het.
“Die bestuurder van die Nissan Almera het ongelukkig daarin geslaag om van die toneel af te vlug,” het O’Neill gesê.
Die beamptes het op die voertuig en die perlemoen beslag gelê en dit aan die Caledon-polisie, wat ’n ondersoekdossier daaroor geopen het, oorhandig.
’n Dertigjarige man is Woensdag 30 Augustus in ’n aparte voorval in hegtenis geneem nadat 2 268 eenhede perlemoen in sy besit gevind is. Lede van Overstrand-wetstoepassing se taakspan het misdaadvoorkomingspatrollies uitgevoer toe hulle inligting oor ’n verdagte voertuig, wat teen ’n hoë spoed op die R43 in die rigting van Grabouw jaag, ontvang het.
Die beamptes het daarin geslaag om die Nissan-bakkie met EC-nommerplate voor te keer en het 11 plastieksakke met altesaam 2 268 eenhede perlemoen in die voertuig aangetref. Die beamptes het op die perlemoen, met ’n geraamde waarde van R270 000, sowel as die voertuig en die bestuurder se selfoon beslag gelê.
“Die verdagte word deur aanklagte van die onwettige besit van perlemoen, poging tot moord, roekelose en/of nalatige bestuur en die besit van ’n vervalste rybewys in die gesig gestaar,” sê O’Neill.
Lede van Overstrand-wetstoepassing se honde-eenheid het op 31 Augustus op byna 1 000 eenhede perlemoen beslag gelê. Die beamptes was in ’n hoëspoedjaagtog met die verdagtes betrokke nadat hulle inligting oor ’n voertuig wat perlemoen vervoer, opgevolg het.
Toe die verdagtes die voertuig op die R43 verlate gelaat en op die vlug geslaan het, het die beamptes op die voertuig en perlemoen met ’n geskatte straatwaarde van R290 000 beslag gelê en dit aan die Villiersdorp-polisie oorhandig.
Vyf mans is in ’n onverwante voorval tydens ’n gesamentlike optrede by Kwaaiwater deur lede van Overstrand-wetstoepassing en CapeNature van hengel sonder ’n permit en die besit van kiefnette (gill nets) aangekla.
O’Neill het die publiek gewaarsku dat jy slegs op die Kleinrivier mag hengel indien jy ’n visvang-lisensie het.
Hy het bygevoeg dat dit verbode is om in die rivier met ’n net vis te vang.
Goeie samewerking tussen die wetstoepassingseenhede het ook tot die inhegtenisneming van twee vermeende perlemoenstropers naby Danger Point gelei.
Die mans is van duik in ’n verbode gebied aangekla en hul boot is afgeneem.





