Een betoger het ’n baie belangrike vraag gevra na aanleiding van die Wes-Kaapse onderwysdepartement se aankondiging dat ’n tekort van sowat R3,8 miljard in die begroting tot die besnoeiing van byna 2 400 kontrakposte sal lei. Foto: Elisma Grobbelaar


Die aankondiging dat byna 2 400 onderwysers hul poste teen die einde van die jaar sal verloor, veroorsaak groot kommer – veral in armer gemeenskappe waar skole nie kan bekostig om beheerliggaamposte te skep en te finansier nie.

In die Overberg alleen gaan 117 onderwysposte volgens berigte besnoei word (“Kommer oor onderwysers” Hermanus Times 11 September). Bronne sê skole in die Overstrand wat die swaarste deur die besnoeiings getref word, is onder meer Qhayiya Sekondêre Skool in Zwelihle wat sewe onderwysers gaan verloor, Zwelihle Primêre Skool waar vyf poste gesny word, die Hoërskool Hermanus waar agt onderwysers botallig verklaar is en Hawston Sekondêr waar agt onderwysposte geraak word.

Onderwysers van verskeie skole oor die Overberg heen het Vrydag aan vreedsame betogings deelgeneem. Kleurryke plakkate het hul frustrasies en menings oor die besnoeiings duidelik uitgespel. “Teaching made your job possible”, “Stop Education Budget Cuts”, “Save our teachers, save our schools”, “Cuts hurt students” en “Belê in onderwys, raak wys” was van die boodskappe op die plakkate.

Een onderwyser het aan Hermanus Times gesê die skool waar sy is, gaan agt onderwysers weens die besnoeiing verloor. “Opvoeding is reeds ’n uitdaging, en om van ons kollegas te verloor, sal dit selfs moeiliker maak. Ons is reeds uitgeput en werk nie in die beste omstandighede nie.”

’n Onderwyser met talle jare ondervinding meen onderwys het oor die jare erg agteruitgegaan. “Toe ek begin onderwys gee het, het ons klasse van 30-35 leerders gehad. Nou sit ons met klasse van 40-50 en die kanse is groot dat ons klasse van tot 60 kinders gaan hê. Ons beweeg terug na ‘gutter education’.”

Nog ’n onderwyser het bygevoeg: “Elkeen is bekommerd oor of hy of sy hul werk gaan verloor. Ons is ook bekom-merd oor die leerders wat die ergste hierdeur geraak gaan word – die leerders gaan in oorvol klasse sit waar hulle nie individuele aandag gaan kry nie. ’n Mens wil nie negatief wees of bespiegel nie, maar kanse is dat dit tot ’n lae slaagsyfer en hoër drop-out rate sal lei.”

Rugene Dees, ’n ACDP-raadslid van die Overstrand-munisipaliteit, het dit beaam en gesê die besnoeiings kan droewige nagevolge inhou. “Dit is soveel groter as net onderwysers wat hul werk gaan verloor. Onderwysers sal nie die oorvol klasse kan beheer nie en kinders sal nie optimale opvoeding ontvang nie. Dit gaan ook bydra tot ’n styging in die werkloos-heidsyfer en ander probleme soos drank- en dwelmmisbruik,” het sy verduidelik.

Dees en lede van die ACDP se Women of Destiny se dringende pleidooi was dat die nasionale sowel as provinsiale regering alles in sy mag moet doen om die besnoeiing van onderwysposte te voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article