Baie onderwysers is bang dat hulle hul werk gaan verloor.


Talle onderwysers in die Wes-Kaap vrees dat hul werk in die gedrang is as gevolg van die besnoeiings op die onderwysbegroting wat deur die nasionale regering opgelê is.

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR van onderwys, het onlangs in ’n verklaring gesê die paniek en verwarring wat onder onderwysers ontstaan het, is as gevolg daarvan dat die feite verdraai word.

“Ons het in werklikheid meer onderwysers in diens geneem om ons visie te lewer, wat gehalteonderrig is vir elke leerder in elke klaskamer in elke skool in die Wes-Kaap.

“Ons het in 2022-’23 nog 890 onderwysers in diens geneem en in 2023-’24 nog 1 143 onderwysers, wat die grootste uitbreiding van die onderwyspersoneel in die Wes-Kaap was.

“Waar onderwysers se kontrakte hul einddatums bereik het, word werwings- en keuringsprosesse versnel om vakante poste te vul met onderwysers wat permanent aangestel sal word.”

Om die skole in die provinsie verder te ondersteun, sê Manier, het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) reeds 3 100 onderwysers, wat voorheen op kontrak gewerk het, permanent aangestel. Daarbenewens is 2 282 kontrakte van onderwysers tot die einde van die jaar verleng en is die departement besig om die werwing van nog 1 613 onderwysers te versnel.

“Ons doen alles wat ons kan om ons skole te beskerm na aanleiding van die massiewe begrotingsbesnoeiings wat deur die nasionale regering opgelê is ten einde gehalteonderwys aan al ons leerders in die Wes-Kaap te lewer,” voeg Maynier by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article