Die Oase-dienssentrum in Bergsig droom vir ’n baie lang tyd oor ’n nuwe minibus, en toe Jacobus Jansen, wat gereeld lede in die ou afgeleefde minibus moes vervoer, op 3 Augustus met ’n nuwe minibus by die Oase se terrein inry, kon die lede hul opgewondenheid skaars beteuel. Edna Vashu, voorsitter van die Oase-dienssentrum, sê: “Dit is ’n groot oomblik in ons geskiedenis. Niemand behalwe die komitee het daarvan geweet nie, dus was dit ’n absolute verrassing vir almal.” Bo drink lede van die Oase-dienssentrum ’n heildronk op hul nuwe minibus.Foto: Mitzi Buys


So ’n ryding val nie sommer uit die lug nie, en daar is geraap en geskraap, geldinsamelings is gehou en verskeie weldoeners het bygedra om dié droom ’n werklikheid te maak.

Edna Vashu, voorsitter van die Oase-dienssentrum, vertel aan Hermanus Times: “Dit is ’n groot oomblik in Oase-dienssentrum se geskiedenis dat ons vandag vir ons lede kan wys dat ons na al die jare die nuwe minibus gekry het. Niemand behalwe die komitee het daarvan geweet nie, so dit was ’n absolute verrassing vir almal.”

“Dit gaan vir ons so baie help, want ons het baie mense van Uitsig wat ook by die dienssentrum wil aansluit, maar ons ou ryding het ons net toegelaat om hier in Bergsig rond te ry, maar nou sal ons hulle in Uitsig kan gaan haal en weer huis toe neem,” sê Vashu.

“Dit sal dit ook baie makliker maak vir ons wanneer ons op uitstappies gaan, want nou hoef ons nie meer ’n kombi daarvoor te huur nie. Ook die vervoer van ons kosaankope word vergemaklik, want as ek vier sakkies aartappels in my klein motortjie gelaai het, was die kattebak vol en dan moes ek verder op die sitplekke laai,” sê Vashu.

“Ons is dankbaar vir Lottoland, wat verlede jaar vir ons ’n groot bedrag geskenk het, asook vir verskeie ander skenkers wat verkies om anoniem te bly, dat hulle dié droom vir ons moontlik gemaak het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article