Slegs ’n week ná die Overstrand se gemeenskapsveiligheid se bekendstelling, het dié eenheid se manne reeds gewys wat in hulle steek toe hulle ’n verdagte wat in die Oos-Kaap gesoek is, aangekeer het.
Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig berig dat die eenheid ’n deurslaggewende rol gespeel het in die inhegtenisneming van Wandile Makwrana. ’n Lasbrief is vir Makwrana uitgereik nadat hy versuim het om op 30 September 2022 in die Humansdorp-landdroshof te verskyn.
Beamptes van die Overstrand se gemeenskapsveiligheid het toe gehelp om op 11 April vir Makwrana, wat op borgtog uit was nadat hy in Jeffreysbaai vir die besit van perlemoen in hegtenis geneem is, op die R43 tussen Hermanus en Gansbaai aan te keer.
Die eenheid, in samewerking met ander wetstoepassers, het ook drie verdagtes in Gansbaai vir die besit van dwelms in hegtenis geneem. Twee verdagtes is aangekeer nadat tik in hul besit gevind is en die ander is met 51 pakke dagga en R440 in kontant gevang.
“Die onmiddellike impak van die eenheid bring vir my groot vreugde,” het die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, gesê. “Dis ook verblydend om te sien hoe die onderskeie wetstoepassingseenhede saam werk om te verseker dat hulle misdaad in die Overberg doeltreffend aanspreek. Hierdie soort resultate is deel van die rede waarom ons hierdie eenhede in nie-stedelike munisipaliteite geaktiveer het. Ons doelwit is om beter veiligheid oor die Wes-Kaap heen te verseker.”
Allen het ’n beroep op alle gemeenskappe gedoen om te verhoed dat misdadigers in hul woonbuurte geanker word.
“Ons verantwoordelikheid is om strategies met alle rolspelers in wetstoepassing – die Suid-Afrikaanse polisiediens, buurtwagte en plaaswagte, gemeenskapspolisiëringsforums en alle ander sektore van die samelewing – saam te werk sodat hierdie gewetenlose karakters nie in ’n posisie is om enigeen te terroriseer nie,” het hy bygevoeg.




