Die nuutverkose burgemeester Mary Liebenberg saam met die speaker Derick Appel en die onderburgemeester, John Michels.

Mitzi Buys

Die gerugte en die aanstelling van die nuwe omstrede burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) het baie reaksie ontlok.

Dít kom nadat die burgemeester van die TWK, Kallie Papier, op 27 Augustus na ’n lang stryd met kanker oorlede is. Raadslid Mary Liebenberg van die Patriotic Alliance en oorspronklik van die Paarl is vandag tydens ’n spesiale raadsvergadering by die Caledon-stadsaal as ’n raadslid van die TWK ingesweer en later ná die verkiesing waar sy met 14 stemme teenoor 13 teen die ander kandidaat, raadslid Carol Benjamin gewen het, as burgemeester bekendgestel.

Inwoners was ontsteld oor die aanstelling aangesien hulle iemand plaaslik wil hê en het Vrydagoggend na die stadsaal opgeruk om hul misnoeë uit te spreek. Van hulle het gesê hulle soek nie ’n inkommer nie en dat daar goeie ander kandidate is.

“Ons soek ’n burgemeester wat van ons omgewing is en weet wat in ons omgewing aangaan,” het een betoger gesê. ’n Ander inwoner het ook gesê dit moet iemand van TWK wees wat die streek se swaar ken.

Tydens haar inhuldigingstoespraak het sy beklemtoon dat sy ’n legendariese man se skoene moet vol staan, maar dat die tyd van Kallie Papier verby is en die tyd van Mary Liebenberg het aangebreek. Sy het ook beklemtoon dat TWK groot uitdagings oorkom het en dat deur samewerking kan hulle ook die ander uitdagings oorkom. “Ons moet hoop terugbring na ons gemeenskap en hoop terugbring na ons munisipaliteit” het sy gesê. 

Lees die volledige berig in volgende week se Hermanus Times.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article