Die Botrivier-rugbyklub het Donderdag (16 Oktober) gesê gerugte op sosiale media oor die skynbare bedanking van sy hoofafrigter Herschelle van Aswegen, is niks anders as ‘n smeerveldtog om dié Overbergse klub se naam en deelname aan vanjaar se Top-12 rugbytoernooi te diskrediteer.
‘n Skermgreep van ‘n boodskap waarin Van Asgewen die spelers meedeel dat hy vandag (16 Oktober) bedank het, het op sodiale media die ronde gedoen. Wilfred Herman, die klub se voorsitter, het hierdie boodskap en bewerings oor Van Aswegen se bedanking by navraag aan Hermanus Times verwerp.
“Ons weet daar is al vir baie lank ‘n veldtog, selfs in die media, om die klub te diskrediteer. Ons kan bevestig dat Van Aswegen voortaan sal dien as hoofafrigter en veroordeel hierdie veldtog en bewerings ten sterkste.”
Die publikasie, Mondstuk Media, wat onlangs deur die joernalis, aktivis en politieke ontleder Heindrich Wyngaard gestig is, het ook Donderdag oor Van Aswegen se beweerde bedanking berig. Volgens Herman is nie hy of Van Aswegen deur die publikasie genader vir kommentaar nie.
“Ek het juis vanoggend vir Heindrich hieroor gekontak. Dit is absoluut onverantwoordelike beriggewing,” het Herman bygevoeg. Hermanus Times het vanuit die binnekringe van die rugbyklub verneem dat daar wel vandeesweek vurige gesprekke plaasgevind het ná Botrivier se nederlaag van 36-29 teen die span van Worcester Villagers tydens die eerste Top-12-ronde die afgelope Saterdag. Tuisveld-voordeel het nie vir Botla Fire gehelp om die wedstryd in sy guns te swaai nie.
Vier kritiese spelers het Saterdag beserings opgedoen. Die klub reis komende Saterdag (18 Oktober) na Vanrhynsdorp vir die tweede ronde waar hulle teen die Eagles te staan kom. Saterdag se span is egter nog nie aangekondig nie.





