Die gemeenskap van Kleinmond sowel as soekgeselskappe met helikopters en reddingspanne het almal saamgestaan om Nico du Preez, wat verlede Maandag in die vroeë oggendure deur vloedwater meegesleur is, te vind.
Noodroepe is op Facebook geplaas, en genoeg geld is verlede week binne ’n japtrap ingesamel om ’n private helikopter te huur. Dié hulpmiddel kon ook niks oplewer nie en selfs polisieduikers kon niks vind nie.
Du Preez was in die voertuig wat op die Botrivier-brug weggespoel het in die oorstromings wat die Wes-Kaap getref het. Sy broer, Jaco, wat ook in die voertuig was, het veilig uitgekom.
Netwerk24 berig Grant Cohen, speaker van die Overstrand-munisipaliteit, sê die soektog na Du Preez het die afgelope naweek voortgeduur.
Polisieduikers en lede van die polisie se K9-eenheid het onder andere daaraan deelgeneem.
Na verneem word, is die wieldoppe gevind, maar nog geen teken van die voertuig of Du Preez is gekry nie. Cohen sê die terrein is baie uitdagend.
Dit is baie modderig en daar is heelwat riethope.
’n Soektog uit die lug was ook onsuksesvol. Geld is ingesamel om ’n helikoptersoektog te finansier en teen Sondag is reeds R46 423 geskenk.
Volgens Cohen sal die helikopter na verwagting vandeesweek vir nog twee twee dae gebruik word.
“Die polisie moet egter nog die terrein beoordeel en besluit of die soektog mag voortgaan.
“Almal wag dat die terrein eers stabiliseer.”
Du Preez se suster, Marie-Lee Phyffer, skryf op Facebook: “Ek bid dat Abba Vader my boetie vir ons gaan bring. Ons bly biddend. Ek bid dat God ons almal sal toevou in sy liefde en ons seer genees.”
Verskeie gemeenskapslede het aan die soektog deelgeneem. . Du Preez is teen druktyd nog nie opgespoor nie.





