Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het bevestig dat daar tot op hede geen voorvalle van cholera in die provinsie aangemeld is nie.
“Ons wil ons gemeenskappe in die Overberg verseker dat ons gesondheidspanne waaksaam en op hul hoede is om enige moontlike geval te identifiseer,” het Roché Butler, woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Overberg, gesê. “As deel van die standaardprosedure om cholera vroeg te identifiseer sal pasiënte met waterige diarree wat ons gesondheidsfasiliteite besoek, ook vir cholera getoets word.”
Wat is cholera?
Cholera is ’n siekte wat veroorsaak word deur die bakterie vibrio cholerea en gepaard gaan met waterige diarree. Sommige pasiënte ervaar ligte simptome wat ’n paar uur tot vyf dae ná infeksie ontwikkel. Die simptome sluit in waterige diarree, braking en beenkrampe.
In meer ernstige gevalle kom die volgende simptome voor:
. Die pasiënt raak skielik siek.
. Erge diarree wat pynloos en waterig is en klein spikkels slym bevat.
. Sommige pasiënte braak, gewoonlik aan die begin van die siekte.
. Die meeste volwassenes kry nie koors weens cholera nie. Kinders kan wel ’n koors ontwikkel.
. Pasiënte kan vinnig gedehidreer raak en indien hulle nie spoedig behandeling kry nie, kan dit hul lewe eis.
Wie loop gevaar om cholera op te doen?
Mense wie nie toegang tot skoon kraanwater en voldoende sanitasiegeriewe het nie, loop die risiko om cholera te kry.
Water wat met menslike ontlasting besmet is, is die grootste oorsaak van cholera. Mense wat besmette water drink of kos eet wat indirek met cholera besmet is, raak siek.
. Water kan by die bron besmet raak met cholera of wanneer dit gestoor of gebruik word.
. Kos kan besmet word wanneer dit met besmette water in aanraking kom.
. Wanneer jou hande vuil is, kan jy drinkwater en kos waarmee jy in aanraking kom, besmet.
Voorkoming:
Drink en gebruik slegs skoon water. Jy kan kraanwater kook en laat afkoel om seker te maak dit is veilig om te drink.
Was jou hande gereeld met seep en water, veral nadat jy die badkamer gebruik het of voordat jy kos kook of eet.
Behandeling
Rehidrasie (die vervanging van verlore vloeistowwe) is die belangrikste manier van behandeling en kan lewens red. Ligte gevalle van cholera kan tuis met orale rehidrasie behandel word.
Matige en ernstig siek pasiënte moet in die hospitaal opgeneem word waar hulle binne-aarse behandeling sal kry. Antibiotika word ook voorgeskryf vir pasiënte wat matig of ernstig ontwater is. Besoek https://www.nicd.ac.za/diseases-a-z-index/cholera/ vir meer inligting.




