’n Fees van rugby is die afgelope naweek in die Overberg opgelewer. Die WP-vrouespan het ’n draai in Hawston gemaak om kragte teen Boland-vroue te meet.Foto’s: Mariëtte Strydom


Dit was ’n fees van rugby die afgelope naweek in die Overberg – met die verskillende ligaverpligtinge en ook vrouerugby tussen Boland en WP.

Dit is duidelik dat die kompetisie vanjaar stram is en geen span het ’n wegholoorwinning aangeteken nie.

Maar dit was die derby-wedstryd in Grabouw wat op almal se lippe is. Die gunstelingspan en wenner van die Paastoernooi in Saldanha, Safcol, het behoorlik op sy neus gekyk toe die G-Boyz hom net-net geklop het. Verlede jaar moes die G-Boyz die onderspit delf teen die span van Safcol.

Die Hoërskool Grabouw se rugbyveld was van vroeg af volgepak van ondersteuners.

Dit was van die begin af ’n wipplankstryd, maar die span van die Grabouw-rugbyklub se verdediging was rotsvas en het daartoe gelei dat Safcol nie kon deurbreek en punte aanteken nie.

Die G-Boyz het al sy kanse benut, dit in punte omgeskep en die wedstryd naelskraaps 21-20 gewen.

Die G-Boyz het laas in 2019, voor die Covid-19-pandemie sport gekortwiek het, vir Safcol gewen.

“Al het ons met een punt gewen – ’n wen bly ’n wen,” het ’n ondersteuners gesê.

Op Hawston se veld was dit die span van Skrik vir Niks wat korte mette met Kleinmond gemaak het.

Kleinmond het aan die begin van die wedstryd vriend en vyand verras en goed vertoon, maar Hawston het aan die einde van die dag die wedstryd 33-25 gewen.

Die groentjies in die Grootuitdaagreeks, Riviersonderend, sukkel nog om sy voete te vind en het ’n groot loesing teen die Black Leaves gekry.

Die telling was 37-6 vir die span van Gansbaai.

Caledon en die Bredasdorp Rangers het gelykop 16 elk gespeel terwyl Botrivier se manne Genadendal 30-24 geklop het.

Vrouerugby is ook Saterdag op Hawston se veld gespeel, en die Boland-vroue het teen WP kragte gemeet.

Die span van WP het maklik en oortuigend 52-7 gewen.

Thomas Chowles, die afrigter van Boland-vroue, sê: “Die span was baie op hul senuwees en het foute gemaak, maar ek glo ons gaan nog baie verbeter.

“Ons het WP by tye op die agtervoet gehad, maar onnodige foute het daartoe gelei dat die streeptruie punte aangeteken het.

“WP se agterlyn het ook die oorhand oor ons gehad. Hierdie was ’n goeie leerkurwe en ons sal na die oefenbord moet terugkeer en die volgende wedstryd met durf aanvat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article