Agter is Aeron Carelse, Amy-lee Corley, Liezel Swartz, Alethea Henn, Janine Botha, Thomas Tromp en Luke Swartz. Voor is Marlon Sauls en Clarence Coetzee.Foto: Mitzi Buys


Die ingang na Myddleton pronk nie net met ’n verwelkomingsbord nie, maar ook met ’n tuin wat onlangs rondom die bord aangelê is.

Dié projek is deur die Caledon-museum van stapel gestuur. Marlon Sauls, die opvoedkundige beampte van die museum, sê hulle wou ’n plaaslike gemeenskapsorganisasie betrek en het Emoji Movement, ’n organisasie sonder winsbejag, wat met die jeug van Myddleton werk, gevra om met die aanlê van die tuin te help.

Museumpersoneel en lede van die Emoji Movement het Saterdag 2 Maart ywerig gewerk om ’n inheemse tuin rondom die verwelkomingsbord te plant. Dit is die eerste gemeenskapstuin wat in Myddleton aangelê is.

Sauls sê die doel van die projek is nie net om jong mense te motiveer om op hul dorp trots te wees nie, maar ook om senior burgers aan te moedig om hul aktiewe leefstyl voort te sit deur hul eie tuine aan te lê.

Janine Botha van Emoji Movement sê: “Ons voel geseënd dat Marlon ons gekies het om hierdie projek saam met hom aan te pak. Die projek was ’n groot sukses en baie mense in die gemeenskap het ons al daaroor gekomplimenteer. Die kinders wat ons met hierdie verfraaiingsprojek gehelp het, gaan loer gereeld of alles nog in orde is en om die plante water te gee.”

Sauls het die Theewaterskloof-munisipaliteit, die Caledon-kwekery en die Heidehof Tehuis vir bejaardes vir die skenking van die plante bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article