Dit was met groot opgewondenheid dat ’n groep inwoners van Myddleton voorverlede Saterdag (24 Junie) hul noodhulp-sertifikate ontvang het.
Dié groep van 17 het vroeg in Mei ’n tweedaagse kursus in noodhulp bygewoon, wat deur die Caledon-ambulansdiens by The Glebe Primêre skool aangebied is.
Janine Botha, wat die kursus gereël het, sê: “Van die kursusgangers was graad 10-leerders asook ’n paar volwassenes. Dit het veral die leerders, wat nog nie seker is wat hulle ná skool wil doen nie, baie gehelp.”
Botha noem die terugvoering van die kursusgangers was baie positief en dat toe hulle die sertifikate ontvang het, het hulle werklik besef wat hulle bereik het. “Die volgende stap sal wees om hulle aan die gemeenskap voor te stel. Hulle kan nou in ’n noodgeval basies iemand stabiliseer totdat ’n ambulans opdaag,” sê Botha.





