Hermanus begin soos ’n skatkis van kuns lyk en nie net geniet die kunstenaars dit terdeë om Hermanus in te kleur nie, maar inwoners en besoekers kan nie uitgepraat raak oor die mooi muurskilderye wat kleur aan die kusdorp gee nie.
Maandag 17 Julie is 13 muurskilderye op Victoria-plein bekend gestel. Dié muurskilderye deur 13 plaaslike kunstenaars is deel van die Village Mural Art Walk-projek wat deel is van die Whale Coast Business & Community Forum, wat op die opheffing van die sakekern fokus. Volgens die sameroeper van die projek, Debbie van Vuren, beplan hulle hul eerste kunsroete in Oktober en sien hulle baie uit na die projek.
“Ons gaan nader aan die tyd ’n kaart aan die publiek bekend stel. Die doel van die projek is om die nodige erkenning vir die kunstenaars te gee asook om inwoners en besoekers ons mooi dorp te laat beleef.
Die 13 kunstenaars moes volgens die tema “Overberg” iets optower en die skilderye is iets om te sien, van walvisse tot meerminne, kanolavelde en die seelewe.
Besoek gerus Victoria-plein en verlustig jou in die mooi van wat Hermanus jou kan bied.




