Die MSC Rita in Walker Bay, wat menige inwoner op hol gejaag het.Foto: Martin Etsebeth


Donderdagoggend het dit van vroeg af gegons oor die vragskip in Walker Bay – iets wat ongewoon hier in die waters van Hermanus is.

Met die nuus van die vermeende wapens op die Russiese vragskip in Simonstad het menige Hermanus-inwoner oor die vreemde verskynsel gegis. Party was selfs van mening dat dit dalk ’n Russiese aanslag kan wees . . .

Dit was veral die walvis-kykers wat bekommerd was oor die invloed wat die vragskip op die walvisse in die omgewing gaan hê aangesien dit weer tyd is vir die suidelike noorkapper om sy verskyning aan die Overberg-kus te maak.

Die MSC Rita, wat 325 m lank is en duidelik ’n vragskip is, het lank in Walker Bay gelê voordat dit weg is. Gerugte het ook die ronde gedoen dat die skip ’n noodsein gestuur het, maar dit kon nie bevestig word nie.

Die Overstrand-munisipaliteit is genader vir kommentaar oor die vragskip, maar volgens hulle weet hulle niks van die doen en late van die MSC Rita nie.

Aangesien ’n noodsein glo uitgestuur is, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê noodseine (SOS) word al vir dekades nie gebruik nie en dit is nie vreemd dat ’n vragskip in die water is nie.

Dit is algemeen dat vragskepe ’n seevaartposisie (maritiem) vir skuiling aanvra wanneer onstuimige see en swaar weer voorspel word. Dit is ’n normale prosedure wat gevolg word – nie ’n noodgeval nie – en word daagliks oor die wêreld heen ervaar. Die owerhede weet ook niks van ’n noodsein wat uitgestuur is nie,” het Craig Lambinon, ’n woordvoerder van die NSRI, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article