Micarlo Gillion se ma, Lee-Ann Gillion, het Juanicka Willemse se ma, Elizabeth Willemse, tydens Amsley Witbooi se eerste hofverskyning in verband met Willemse se moord ondersteun. Witbooi het Maandag in verband met Micarlo se moord in die Hermanus-streekshof verskyn.

Bianca Du Plessis

’n Man van Hawston wat sy eksmeisie wreed vermoor en vermink het presies een jaar nadat hy na bewering ’n ander man ook om die lewe gebring het, is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Amsley Witbooi, wat reeds sy lewenslange vonnis begin uitdien het, het Maandag in die Hermanus-streekshof verskyn in verband met Micarlo Gillion se moord. Hy is op 24 April in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot 25 jaar tronkstraf vir sy eksmeisie Juanicka Witbooi se wrede moord gevonnis nadat hy skuld beken en ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy het erken dat hy Willemse om die lewe gebring het om te verhoed dat sy teen hom sou getuig in ‘n ander saak waarop hy teregstaan. Willemse, ’n ma van drie kinders waarvan die jongste byna twee jaar oud was ten tyde van die moord, se erg verminkte liggaam is op 4 September 2020 in Cambridgestraat, nie ver van haar huis in Hawston af nie, gevind. Presies een jaar voor dit – op 4 September 2019 – het ’n verbyganger op Micarlo Gillion se liggaam wat ook erg geskend was, naby Hawston se sportterrein afgekom.

Witbooi en Valentino Witbooi is kort na Gillion se dood in hegtenis geneem. Hy was uit op waarskuwing in verband met dié saak toe hy vir Willemse se moord in hegtenis geneem is. Lee-Ann Gillion het kort na Witbooi se inhegtenisneming in 2020 aan die Hermanus Times gesê Willemse se moord sou nooit gebeur het as Witbooi nie na haar seun Micarlo se moord vrygelaat was nie. “As hy in die tronk gebly het, sou dit nie gebeur het nie,” was haar woorde.

Eric Ntabazalila het bevestig dat Witbooi en sy medebeskuldigde albei op waarskuwing vrygelaat was en dat die rol in een stadium van die hofrol geskraap was omdat ’n getuie nie by die hof was nie. Volgens Gillion was haar seun “doodgemartel”.

“Hy was só erg beseer dat ons nie eens sy kis kon oopmaak om finaal van hom afskeid te neem nie,” het sy verduidelik. Gillion het Willemse se ma Elizabeth tydens Witbooi se eerste hofverskyning op Maandag 7 September 2020 bygestaan. Elizabeth Willemse het vertel dat sy nie regtig geskok was toe sy haar dogter se lyk gevind het nie omdat Witbooi voorheen gedreig het om haar te vermoor. “Hy het gedreig hy gaan haar ophang, haar oë uitsteek en haar tong uitsny. Sy het hom gevrees, maar nooit ’n klag gelê nie, want hy het gedreig hy gaan die huis afbrand en haar dogter verkrag as sy nie doen wat hy sê nie,” het Elizabeth vertel.

Witbooi is sedert sy inhegtenisneming in 2020 vir Willemse se moord in hegtenis nadat hy aangedui dat hy nie om borgtog sou aansoek doen nie. Kolonel Luthando Nosilela, Hermanus-polisie se stasiebevelvoerder, het die vonnis verwelkom. “Baie dankie aan die ondersoekbeampte, sersant Craig Philander, vir sy goeie ondersoekwerk wat ’n deurslaggewende rol in die swaar vonnis gespeel het. “Hierdie vonnis stuur ’n duidelike boodskap uit dat misdadigers wat hulle aan sulke wrede dade skuldig maak, aan die pen sal ry,” het Nosilela bygevoeg.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig dat Witbooi tot gevonnis is tot 25 jaar gevangenisstraf wat opgeskort is vir drie jaar op voorwaarde dat hy nie in dié tyd skuldig bevind word aan moord of poging tot moord nie. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article