’n Man van Hawston wat sy gewese meisie wreed vermoor en vermink het presies ’n jaar nadat hy na bewering ’n ander man ook om die lewe gebring het, is 25 jaar tronkstraf opgelê.
Amsley Witbooi, wat reeds sy lewenslange straf begin uitdien het, het Maandag in die Hermanus-streekhof verskyn in verband met die moord op Micarlo Gillion. Hy is op 24 April in die Wes-Kaapse hooggeregshof 25 jaar tronkstraf vir die moord op sy gewese meisie, Juanicka Willemse, opgelê nadat hy skuld beken en ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Hy het erken hy het Willemse om die lewe gebring om te verhoed dat sy in ’n ander saak waarop hy tereg-staan, teen hom sou getuig.
Willemse, ’n ma van drie kinders, van wie die jongste ten tyde van die moord byna twee jaar oud was, se erg verminkte liggaam is op 4 September 2020 in Cambridgestraat naby haar ouerhuis in Hawston gevind.
Presies een jaar voor dit – op 4 September 2019 – het ’n verbyganger op Micarlo Gillion se liggaam, wat ook erg geskend was, naby Hawston se sportterrein afgekom. Witbooi en Valentino Witbooi is kort ná Gillion se dood in hegtenis geneem.
Hy was uit op waarskuwing in verband met dié saak toe hy vir Willemse se moord in hegtenis geneem is.
Lee-Ann Gillion het kort ná Witbooi se inhegtenisneming in 2020 aan die Hermanus Times gesê Willemse se moord sou nie gebeur het as Witbooi nie ná haar seun Micarlo se moord vrygelaat is nie.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig dat Witbooi en sy medebeskuldigde al twee op waarskuwing vrygelaat was en die saak in ’n stadium van die hofrol geskrap was omdat ’n getuie nie by die hof was nie.
Volgens Gillion is haar seun “doodgemartel”. “Hy was só erg beseer dat ons nie eens sy kis kon oopmaak om finaal van hom afskeid te neem nie,” het sy verduidelik.
Gillion het Willemse se ma, Elizabeth, tydens Witbooi se eerste hofverskyning op Maandag 7 September 2020 bygestaan.
Elizabeth Willemse het vertel sy was nie regtig geskok oor haar dogter se moord nie omdat Witbooi voorheen gedreig het om haar dood te maak.
“Hy het gedreig hy gaan haar ophang, haar oë uitsteek en haar tong uitsny. Sy het hom gevrees, maar nooit ’n klagte teen hom aangemeld nie, want hy het gedreig hy gaan die huis afbrand en haar dogter verkrag as sy nie doen wat hy sê nie,” het Elizabeth vertel.
Witbooi word sedert sy inhegtenisneming in 2020 vir Willemse se moord aangehou nadat hy gesê het hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie.
Kol. Luthando Nosilela, die Hermanus-polisie se stasiebevelvoerder, het die vonnis verwelkom.
“Baie dankie aan die ondersoekbeampte, sers. Craig Philander, vir sy goeie ondersoekwerk, wat ’n deurslaggewende rol in die swaar vonnis gespeel het.
“Hierdie vonnis stuur ’n duidelike boodskap dat misdadigers wat hulle aan sulke wrede dade skuldig maak, aan die pen sal ry.”
Ntabazalila het bevestig dat Witbooi 25 jaar gevangenisstraf opgelê is, waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hy nie in dié tyd aan moord of poging tot moord skuldig bevind word nie.
Witbooi het Maandag in verband met Gillion se moord in die Hermanus-streekshof verskyn.
Dié saak is tot 8 September vir verhoor uitgestel.




