“Sukses word nie soveel toegeskryf aan vermoë nie, maar aan geesdrif.”

Monties het gees! Interskole is die hoogte­punt op ons kalender. Beskou dit as ’n voorreg om deel te wees daarvan. Dit is ’n tyd wanneer die skool tot stilstand kom, wanneer tyd self tot stilstand kom, wanneer ons mekaar op die sportveld die stryd aansê en wanneer ou herinneringe afgestof en nuwes gemaak word.

My wense vir die dag: Mag Liewe Jesus afkyk na ons almal en glimlag, want Hy is gelukkig met wat hier gebeur. Mag gesonde wedywering geseënd wees en mag almal weer as vriende uitmekaar gaan. Mag alle spanne ’n goeie sportmangees openbaar. Jong dames en jong manne van elke skool – jy mag nooit jou talente wegsteek nie. Wees trots op jouself, jou span en jou skool!

Mag elke deelnemer sy en haar Godgegewe talente uitleef en elke oomblik geniet. Mag nuwe vriendskapsbande tussen teenstanders gesmee word – bande wat vir jare vorentoe steeds sterk sal wees. Die lewe is kort, leef dit; sport is lekker, geniet dit; vriendskappe is skaars, koester dit; woede is onnodig, los dit; herinneringe is soet, bewaar dit; respek is bemagtigend, verdien dit.

Ons opregte dank aan mnr. Retief, die personeel van die Hoërskool Bredasdorp, en almal wat só hard gewerk het om hierdie dag moontlik te maak. Ons sien daarna uit om die dag saam met julle deur te bring en te geniet. Mag julle elke tree van hierdie dag se reis suksesvol bewandel in diepe afhanklikheid van ons Hemelse Vader en mag Hy julle in Sy groot genade seën.

Wat jy is, is God se gawe aan jou; wat jy van jouself maak, is jou gawe aan God. Baie sterkte! Mag die beste spanne wen. LAG – leef altyd getrou!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article