Heindrich Wyngaard, ook bekend as “Mnr. Klop”, met die gesogte toekenning wat hy onlangs gewen het.Foto: Mitzi Buys


“Ek het in ’n huis sonder ’n televisiestel grootgeword,” sê Heindrich Wyngaard, wat onlangs tydens kykNET se Silwerskermfees as die beste aanbieder van ’n geselsprogram aangewys is.

Dit is as aanbieder van die gewilde geselsprogram Kô, lat ons praat (Klop!) waarvoor Wyngaard, ook bekend as “Mnr. Klop”, dié gesogte eerbewys gekry het.

Wyngaard sê in sy kinderjare in Caledon het oom Gert en tannie Griet, wat in 5de Laan, Bergsig, gewoon het, ’n swart-en-wit-televisiestel gehad wat met ’n motorbattery gewerk het.

“Kinders moes twee sent betaal om daar te gaan televisie kyk, maar Wyngaard het vir hulle hout gekap sodat hy ook saam kon kyk.

“Ek het eers toe ek self ’n salaris verdien het, ’n televisiestel gekoop,” sê Wyngaard.

Hermanus Times het Wyngaard gevra hoe hy oor hierdie toekenning voel.

“Ek voel nederig daaroor, maar dit is vir my ’n bevestiging van die feit dat ek oor soveel jare net my beste gee wanneer ek voor die kamera is.”

Wyngaard noem ook dat hy eintlik ’n siniese houding teenoor hierdie soort toekennings gehad het omdat mense dikwels hulself moet inskryf vir toekennings, maar in hierdie geval het die produksiemaatskappy die inskrywing gedoen.

“Ek het nie verwag om te wen nie, maar ek het. Die feit dat my vriend Jonathan Rubain die aankondiging gedoen het, het dit vir my nog meer spesiaal gemaak,” sê Wyngaard.

“Daar was net 30 sekondes om die bedankings te doen, dus kon ek onmoontlik almal bedank,” sê Wyngaard.

“Maar dit was spangebonde, en die kameramanne is vir my belangrik, want hulle vang vas wat op die stel gebeur en kry nooit erkenning nie.

“Ek het nou ook al geleer ’n mens hoef nie altyd beskeie te wees nie, want as jy voor die kamera is, is dit jy alleen wat die druk voel, en jy alleen wat op jou voete moet dink; jy alleen wat moet herstel as jy ’n blaps gemaak het. Die kyker weet nie noodwendig van daardie soort druk nie,” sê Wyngaard.

Klop! Is nou in sy sesde seisoen en Wyngaard glo dit was van die begin af uniek en baie moeite is gedoen om gewone mense se stories op televisie te vertel.

“Ons primêre doel is om vir iemand wat nooit gedink het hul storie is goed genoeg of sal raakgesien word nie, ’n kans te gee om op televisie te verskyn,” sê Wyngaard.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article