Bredasdorp – Van 9 tot 12 September het Bredasdorppark weer verander in die spilpunt van Suid-Afrikaanse landbou toe NAMPO Kaap 2026 sy hekke oopgooi onder die tema “Saam groei ons”.
Met meer as 500 uitstallers oor 600 uitstalruimtes en ‘n geraamde 43 000 besoekers wat die vier dae deur die hekke gestroom het, het die Wes-Kaap se grootste landou-ekspo weer eens bewys waarom dit onmisbaar is op elke boer en buitelugliefhebber se kalender.
Sedert die eerste NAMPO Kaap in 2018, toe 16 000 mense opgedaag het, het die geleentheid jaarliks gegroei. Verlede jaar is ‘n rekord van 49 326 besoekers aangeteken, en al was vanjaar se syfer effens laer as daardie hoogtepunt, het duisende produsente, landbouondernemings, navorsers en gemeenskapslede steeds na die Overberg gestroom om die nuutste in landboutegnologie, masjinerie en innovasie te kom ervaar.
Tegnologie en innovasie aan die voorpunt
Die nuutste trekkers, plaasmasjinerie, presisie-boerdery-stelsels en waterbestuurstegnologie het besoekers oor die 32 hektaar-terrein verwelkom. Veral die proef- en demonstrasie-afdeling het sterk belangstelling getrek. Vanjaar was daar ook ‘n toename in internasionale deelname, met ‘n spesiale Chinese uitstalruimte en vir die eerste keer Amerikaanse uitstallers wat masjinerie en plaastoerusting kom wys het – ‘n duidelike teken dat die wêreld kennis van Suid-Afrika se lanbou begin neem.
In die Santam-ouditorium het verteenwoordigers van die Rooivleisprodusente-vereniging, Melkprodusente-organisasie, Vinpro en Graan SA die nuutste tegnologie en uitdagings bespreek. Die gewilde “Nasie in Gesprek”- en “Food for Mzansi”-sessies, die Ikusasa Water Wise-sentrum en ‘n seminaar oor beskermde groenteproduksie het verdere insigte aan besoekers gebied.
Wêreldklas-ruiterkuns in die arena
Die ruiterprogram in die Western Cape Lubricants Arena was vanjaar weer een van die hoogtepunte, en al die vertonings was by die toegangskaartjie ingesluit.Die wêreldbekende Suid-Afrikaanse Lipizzaners het weer eens die besoekers bekoor.
Vroue in die kollig
Die driedaagse Santam-landbouvroueprogram het van Woensdag 9 September tot Vrydag 11 September in die Distinctive Choice-tent op die grasperk voor die BKB-gebou plaasgevind. ‘n Groot skerm buite die tent het nog meer besoekers in staat gestel om die aanbiedinge te volg.
Onder seremoniemeester Beneschke Janse van Rensburg en die tema “Waar boere, kos en gemeenskap saam groei”, het die program inspirerende gesprekke, leefstylinhoud, kos, geloof, musiek en verhale van veerkragtigheid saamgebind.
Woensdag het die country-musikant Chris Else vir musiek gesorg, gevolg deur Mel die Storieverteller. Donderdag het Lynette Beer “Saad van inspirasie” aangebied, met Dawid Engelbrecht wat “Seekos op die plaas” gedemonstreer het, en die dag is met ‘n optrede deur Brendan Peyper afgesluit. Vrydag het Koben Hofmeyr sy verhaal “Ek stap weer” gedeel, met musiek deur Franna Benadé en ‘n bydrae deur Willem Botha.
Fynbos, pluimvee en boeregeregte
In die Voermoel-saal het die Fynbos-blommeuitstalling besoekers verwelkom met grootskaalse blommerangskikkings, inheemse plantmateriaal en skeppende blomkuns wat die besondere verskeidenheid van die Kaapse blommeryk gevier het.
Die verskillende telersgenootskappe het ook hul kundigheid gedeel. Vanjaar se uitgebreide pluimvee-uitstalling, met ‘n verskeidenheid rasse wat aan die pluimveeskou deelgeneem het, was ‘n treffer. Die BKB-veesentrum is as bykomende uitstalruimte gebruik.
Die Neptun Deli het wyn, gedroogde vrugte, olywe en ambagsprodukte aangebied, terwyl BKB en Suideroord se skaapkopmaaltye tussen 11:00 en 14:00 daagliks misgeloop is. Die Overberg-streeksjeugskou, die Toyota SA Jong Veilingmeester-kompetisie en die Omnia Boere-innovasie-kompetisie het verder tot ‘n geesde volle program bygedra.
Saam groei ons
NAMPO Kaap 2026 het weer eens bewys dat dit meer is as net ‘n uitstalling – dit is ‘n ontmoetingsplek waar besigheid gedoen word, kennis gedeel word en gemeensappe saamgroei. Soos een uitsteller dit gestel het: “Gesprekke het vinnig in besigheid verander – dit is presies die waarde wat NAMPO Kaap bied.”
Bredasdorp en omliggende dorpe het die ekonomiese impak gevoel met vol bespreekte gastehuise, besige restaurante en seisoenale werksgeleenthede wat gedurende die week van die ekspo geskep is.


