Met die oorstromings wat die Overberg-streek verlede week getref het, is gemeenskappe oorval met weldoeners wat uit hul pad gegaan het om te help.
Die hewige storms verlede Maandag (9 Februarie) het groot skade in Greyton aangerig en volgens die projekkoördineerder van Gemeenspaksprojekte in Greyton, Henno Sauls, het baie families onder die natuurramp gely. “Dit was ‘n baie hartseer tyd vir menige inwoner van Greyton, maar wanneer sulke moeilike tye oor jou pad kom, kom daar ook ‘engele’ om dit te verlig. Een van die ‘engele’ is die Rooikruis-vereniging van Greyton,” vertel Sauls.
Volgens hom was hy veral beïndruk deur die Rooikruis se vinnige terugvoer en hul toegewydheid om ander te help. “Die Rooikruis-span het sonder ophou gewerk om ons te help om dié wat deur die storms getref is, by te staan. Ons het mense gehelp wie se huise gelek het en wie se huise heeltemal oorstroom is. Ek waardeer die Rooikruis se hulp en sê dankie dat ek altyd op hul knoppie kan druk. Ons wens die organisasie, sy span en bestuur net die beste toe en glo dat hulle van krag tot krag sal gaan,” het Sauls gesê.
• Bel Sauls by 073 022 2166 vir enige navrae oor die Greyton-gemeenskapsprojek.




