Die droom om ’n eie huis te besit, het vir meer as 300 inwoners van die Theewaterskloof-munisipale gebied ’n werklikheid geword toe die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) tussen 3 en 7 Oktober meer as 300 aktes aan huiseienaars oorhandig het.
Vir baie was dit ’n langverwagte droom van meer as 20 jaar. Sommige inwoners is intussen oorlede, maar die titelaktes sal aan naasbestaandes oorhandig word.
Die burgemeester van die TWK, Tienie Zimmerman, het nie net die nuwe huiseienaars gelukgewens nie, maar ook sy dankbaarheid teenoor die departement menslike nedersettings uitgespreek. “Vandag se oorhandiging is ’n getuienis van jul toewyding om ons gemeenskappe te dien,” het hy gesê.
Die burgemeester het aan die ontvangers van die titelaktes genoem hierdie is ’n nalatenskap vir hul families en hul nageslagte. Hy het ook gemaan teen die versoeking om die huise te verkoop en eerder te verseker dat hul geliefdes altyd ’n dak oor die kop sal hê.
“Ons vier nie net die einde van ’n lang wagtydperk nie, maar ook die begin van ’n nuwe hoofstuk in u lewe. Mag u huise met vreugde en ’n gevoel van behoort gevul wees,” het Zimmerman gesê.
Die nuwe huiseienaars is ook aangeraai om testamente op te stel om moontlike onenigheid by hul sterfte te vermy.
Weens werkverpligtinge kon nie al die huiseienaars die verrigtinge bywoon nie, maar hul titelaktes sal aan hulle oorhandig word.
Die hoeveelheid titelaktes wat oorhandig is, was: Grabouw: 205, Botrivier: 29, Riviersonderend: 16, en Caledon en Tesselaarsdal 64 elk.





