’n Man se liggaam is Sondag (29 September) ongeveer vyf meter van ’n bord wat teen die gevaar van aanvalle in die omgewing waarsku, aangetref.
Die bord, wat deur Afriforum Alfa-buurtwag opgerig is, lui: “Wees asseblief versigtig, want daar is ’n risiko van roof of aanval verby hierdie punt.”
Die onbekende man se lyk is met een steekwond in die bors naby die bord gevind. Bronne sê die slagoffer is vermoedelik elders met ’n skerp voorwerp gesteek en het dalk van daar af gestrompel na die plek waar hy inmekaargesak en gesterf het.
Kol. Gustav Tamboer, die Hermanus-polisie se bevelvoerder, het bevestig dat ’n saak van moord ondersoek word.
“Die oorledene is vroeg Sondagoggend (29 September) gewaar waar hy in Kusweg, Sandbaai, gelê het. Omstanders het aanvanklik aangeneem hy slaap, maar toe hy later die dag steeds daar gelê het, het iemand ondersoek ingestel en ontdek hy is dood,” het Tamboer gesê.
“Ons kan in hierdie stadium nie bevestig of hy op die plek waar sy liggaam gevind is, vermoor is en of hy soontoe gehardloop en toe inmekaargesak het nie.”
Volgens Tamboer is die oorledene nog nie geïdentifiseer nie aangesien hy geen vorm van identifikasie by hom gehad het nie.
Die motief vir die moord, het hy bygevoeg, is ook onbekend aangesien die polisie nog nie kon bevestig of die oorledene van enige besittings beroof is nie.
“Niemand is al in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort en alle leidrade word opgevolg.”
Tamboer het voorts bevestig dat talle mense al in dié omgewing beroof is. “Kusweg in Sandbaai is ’n gebied waar talle rooftogte al plaasgevind het aangesien die omgewing bebos is en misdadigers geneig is om in die bosse weg te kruip,” het hy bygevoeg.




