Owerhede is op soek na Judith Ungwyn van Genadendal, ’n ma van twee jong kinders wat tans in hul ouma se sorg is, nadat albei hul ouers ongeveer drie jaar gelede die hasepad gekies het.
Ungwyn is egter eers ongeveer twee jaar gelede as vermis aangemeld. Soektogte deur die polisie na aanleiding van inligting dat sy moontlik in die Franschhoek-omgewing kan wees, het egter niks opgelewer nie.
Trevor Hermanus, voorsitter van die Genadendal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê dis uiters dringend dat hulle die jong ma opspoor aangesien albei haar kinders nie geboortesertifikate het nie en die oudste meisie dus nie vir skool ingeskryf kon word nie.
“Die kinders se ouma het die ouers twee jaar gelede laas gesien en vir Judith kort daarna as vermis aangemeld. Die oudste kind is ses en moes al in graad R gewees het, maar omdat sy nie ’n geboortesertifikaat het nie, kon sy nie by die skool ingeskryf word nie,” het hy bygevoeg.
Enigeen met inligting oor waar Ungwyn haar bevind, word gevra om sers. Chetelle Valentine by 028 251 1000 of 079 432 2614 te kontak.





