Leane Koopman van Hawston se nuwe boek word op 16 Junie by Hawston-lapa bekendgestel.

Ma, ouma en skrywer van Hawston stel boek op Jeugdag bekend


Haar kreatiwiteit ken geen perke nie. As jy met Leane Koopman gesels, kom jy gou agter dat haar hande vir niks verkeerd staan nie.

Al is dié ma, ouma en werknemer van die Overstrand-munisipaliteit altyd besig met werk, kinders en raadgee, maak sy nog tyd vir juwele ontwerp, kerse maak en om verskillende resepte te toets. Maar dit is die skryfgogga wat maak dat dié inwoner van Hawston nou in die nuus is.

Leane sê sy is ‘n lojale Hawston-inwo­ner wat al haar lewe lank in dié vissers­dorp woon. “Ek is die jongste van sewe kinders en ‘n boorling van Hawston. Dit is hier waar ek my passie vind en dit is ook hier waar ek my menswees kan uitleef,” vertel sy. Dit is nog een van die redes waarom sy besluit het om haar boek, Hope found Lea, op 16 Junie by die Hawston-lapa bekend te stel.

Hope found Lea gaan volgens haar oor oorwinning en persoonlike ontwikkeling te midde van probleme en struikelblokke op jou pad. “My boek gaan oor hoop en met dit ‘n vaste vertroue dat alles beter gaan word. Dit gaan ook oor persoonlike keuses. Ons staan elke nuwe dag voor keuses en dis ons verantwoordelikheid om die regte keuse te maak – hoe om te kies, om te wen en sterk te staan met God aan jou sy. Die doel met my boek is om soveel mense moontlik te bereik en dié wat jare in pyn, trauma en teleurstelling vasgevang is, te help en te lei.”

Leane sê sy was nog altyd lief vir skryf, al was lees nie een van haar gunstelingaktiwiteite nie. “My grootmaaksuster het altyd met my gesukkel as dit by leer kom. Ek was ‘n dromer met ‘n ‘memory-boek’ aan die voorkant van my huiswerkboek, waar ek dan my gedagtes en gevoelens neergeskryf het. In hierdie boek kon ek myself met teken en skryf uitleef.”

Ander vroue inspireer haar

Sy sê sy het nooit gedink sy kon skryf nie, maar toe een van haar gedigte in ‘n digbundel verskyn het, het sy met nuwe oë na haar skryfwerk begin kyk. “As ‘n jong volwassene het ek vir Leserskring se poësiekompetisie ingeskryf. My gedig ‘Death in my Family’ het toe verskyn en ek was in die wolke.”

Leane sê ander vroue se lewens­paaie, hul keuses en hoe hulle dit hanteer het, inspireer haar. “Elke mens se karakter kan iemand inspireer. Daar is ‘n seisoen in ander mense se lewe wat jou kan inspireer, jou kan help en jou weer kan moed gee. Dis die vroue se lewenspaaie en selfs my susters en my ma wat my inspireer om elke dag op te staan, kreatief te wees en ‘n verskil in ander se lewe te maak.” Vir Leane speel geloof ‘n belangrike rol in haar lewe. “Ek pak niks sonder die Here aan nie en probeer net volg waar Jesus my lei.” Sy wil verder ook vir elke leser die boodskap bring – dat jou omstandighede waaruit jy kom, nie jou toekoms bepaal nie. “Daar is hoop – ek het dit in Jesus gevind. Almal moet hoor jy is nie alleen nie – Hy is daar en Hy wag vir jou om Hom aan te roep.”

Haar raad aan ander wat graag iets wil publiseer: “Neem net die eerste stap, moenie bang wees om te vra nie en kry vir jou ‘n skryfafrigter wat jou skeppende reis saam met jou kan aanpak.”

Vir mense wat graag die boekbekendstelling wil bywoon, kontak Leane by 069 409 5884 of stuur ‘n e-pos na leanekoopman@gmail.com

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article