Drie verdagtes sal Donderdag 11 Mei in die hof verskyn in verband met die moord op ’n man wie se liggaam verlede week in ’n oop veld gekry is.
Luitenant-kolonel Gustav Tamboer, bevelvoerder van Bredasdorp-polisie, berig dat twee van die verdagtes kort na die moord in hegtenis geneem is en ’n derde verdagte ’n paar dae later vasgekeer is.
Die polisie het die eerste verdagte in hegtenis geneem nadat die 36-jarige slagoffer se liggaam Sondag 23 April omstreeks 07:00 in die oop veld naby Lesedi-skool ontdek is.
“Die slagoffer het verskeie steekwonde gehad en het op die toneel gesterf. Ná ’n deeglike ondersoek is die eerste verdagte in hegtenis geneem. Die tweede verdagte is kort daarna in hegtenis geneem en die derde verdagte ’n paar dae later.
Al drie verdagtes het reeds op aanklag van moord in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.
Die drie verdagtes is in aanhouding en sal Donderdag (11 Mei) hul tweede verskyning in die hof maak.


