Die moordenaar van tannie Sarah Marais wat op 4 Augustus 2020 in die vroeë oggendure wreed in haar huis aangeval en vir dood agtergelaat is, is deur landdros Marilyn Cannon in die Caledon-streekhof lewenslange tronkstraf opgelê.
Tannie Sarah is ’n paar dae ná die aanval op 9 Augustus oorlede (Theewaters-kloof Gazette, 11 Augustus 2020).
Ashley Mentoor (35) is Donderdag 15 Augustus – vier jaar ná die voorval – gevonnis. Hy het ’n rits vorige veroordelings en het die oorledene geken. Hy het deur die dak toegang tot haar huis verkry. Verskeie goedere asook haar motor is in die rooftog gesteel.
Die feit dat hy tydens die wrede aanval glo onder die invloed van dwelms was, is nie as versagtende omstandighede erken nie. Mentoor is ook ’n vonnis van vyf jaar vir huisbraak asook ’n vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê, wat gelyktydig met sy lewenslange vonnis uitgedien sal word.
Cannon het in vonnisoplegging gesê Mentoor is nie rehabiliteerbaar nie.





