“Liewe Jesus was saam met ons . . .”
Só vertel ’n agtjarige seuntjie wat verlede week se gru-botsing tussen ’n minibus-taxi en ’n bus op die R326 tussen Stanford en Van Brakelstoor oorleef het.
Magdalena Theunissen, ’n toegewyde ma van vyf, was nie so gelukkig nie. Sy was op pad huis toe met haar twee jongste kinders, Monroe (8) en Priscilla (11), toe die taxi en die bus naby Boschheuvel gebots het.
Haar oudste seun, Bronwill Theunissen, vertel hy was by die huis, nie ver van die toneel af nie, toe hy die nooddiensvoertuie se sirenes hoor loei het. Kort daarna het ’n familielid hulle van die botsing ingelig.
“Hy het gesê my ma lê eenkant buite die taxi.”
Bronwill het dadelik sy fiets gevat en na die toneel gejaag, waar hy talle nooddienswerkers op die toneel aangetref het. Die feit dat hy nie nader kon gaan nie en gerugte dat sy ma en suster dood is, vertel hy, het hom byna geknak.
’n Familielid het hom huis toe geneem en die broers en susters ingelig dat hul ma dood en hul broer en suster in die hospitaal opgeneem is.
“Ons ma was ’n liefdevolle mens – hardwerkend, saggeaard – en het altyd haar familie eerste gestel,” vertel Charika Theunissen.
“Sy was ’n ma en pa vir ons. Ons weet nie hoe ons sonder haar gaan cope nie,” het Bronwill gebroke bygevoeg.
Megan Davids, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid en welstand, het bevestig vyf ambulanse en twee reddingsvoertuie was op die toneel om bystand te verleen.
“Met hul aankoms het hulle 13 pasiënte aangetref. Die meeste het ernstige beserings insluitend veelvuldige beenbreuke opgedoen. Reddingswerkers moes ook hul reddingstoerusting gebruik om een pasiënt wat vasgekeer was, te bevry. Pasiënte is op die toneel behandel en daarna na die Hermanus- en Caledon-hospitaal vervoer. Vyf pasiënte is later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Ongelukkig is twee sterftes op die toneel bevestig,” aldus Davids.
“Ons wil graag ons medelye met die familie en vriende van die oorledenes betuig.”
Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, het gesê die minibus-taxi het volgens ooggetuieverslae teen die bus gebots en omgeslaan.VVervolg op bl. 3.





