“ ’n Man met nie ’n bang haar op sy kop nie en iemand met durf en daad; ’n man wat omgegee het en lief was vir sy familie, vir sy skoolkinders en vir sy See-en-Sand-lewensredder-beweging; ’n groot man wat diep spore in baie mense se lewens getrap het.”
Só lui een van die talle huldeblyke wat ingestroom het ná die dood van Sparks Esterhuysen, stigter van die See-en-Sand-instituut, verlede week. Hy was 81 jaar oud.
Esterhuysen was ’n LO-onderwyser by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch toe van sy leerders hom gevra het om ’n kamp te hou waar hulle meer oor die see kon leer. Die gewildheid van dié kampe het daartoe gelei dat hy See-en-Sand begin het, waar talle jong mense oor die jare as menseredders gekwalifiseer het.
Benewens die feit dat hy die bekende See-en-Sand-instituut gestig het, was Esterhuysen ook ’n baanbreker op talle ander gebiede.
Cape Whale Coast-toerisme het in ’n huldeblyk genoem dat Esterhuysen en sy vrou, Tilla, die eerste mense was wat ’n restaurant by Bientang se Grot bedryf het. Vars gebraaide vis was glo ’n gewilde maal op dié restaurant se spyskaart.
Volgens dié huldeblyk het Esterhuysen, wat op die eerste Walvisfees se reëlingskomitee gedien het, ook talle sportgeleenthede gereël, waarvan die eggo’s nog duidelik sigbaar is in hedendaagse geleenthede in die omgewing.
Die wêreldbekende jaarlikse Trans Agulhas-bootvaartkompetisie was ook Esterhuysen se geesteskind. Hy het die idee vir die uitdaging gekry nadat hy ongeveer 700 km per kano van Nature’s Valley tot in Kaapstad geroei het.
Ten spyte van doemprofete wat die bootvaartkompetisie as te gevaarlik beskryf het, het dit – volgens die Trans Agulhas-webblad – op 26 Desember 1988 met drie bote begin. Dit het sedertdien in ’n wêreldbekende kompetisie ontwikkel.
Esterhuysen het ook ’n boek, Ken jy die see?, geskryf waarin hy sy kennis van onder meer die getye, see-strome en haaie gedeel het.
Ná sy aftrede kon Esterhuysen, wie se liefde vir die oseaan legendaries was, dikwels gesien word waar hy langs die see sit om die dassies en seemeeue te voer.
’n Spesiale gedenkdiens om sy lewe te vier, is Saterdag (15 April) in die Lewende Waters-familiekerk in Hermanus gehou.




