Matrikulante van Hawston Sekondêr het onlangs die geleentheid gehad om meer uit te vind van verskillende studie- en loopbaanrigtings by ’n loopbaanuitstalling wat oor twee dae by die skool aangebied is.
Hawston Sekondêr, in samewerking met Neo Life, het die suksesvolle loopbaanuitstalling aangebied.
Verteenwoordigers van verskillende organisasies, soos Neptune Diving School and Cruises, die Hermanus-polisie, Northlink Kollege, die Universiteit Stellenbosch, Weskus-kollege, Boland-kollege, Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie, Overstrand Learning Hub, Quantum-paneelkloppers, PPG Kaapstad, Guthrie & Theron-prokureurs sowel as die Wes-Kaapse onderwysdepartement se senior maatskaplike werker en musiekfakulteite van verskillende universiteite was daar om hul kennis te deel. Die Johann en Gaynor Rupert Trust asook die Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid, verkeersafdeling, die brandweer- en menslike hulpbronne-afdelings was ook by die loopbaanuitstalling.
Leerders kon nie net meer te wete kom oor verskillende loopbane en kursusse nie, maar kon ook antwoorde kry op vrae oor vakkeuses en toelatingsvereistes asook oor beskikbare beurse en studielenings.
Raadslid Ronald Nutt, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, het tydens die opening van die program die leerders bemoedig met die boodskap dat hulle almal die vermoë het om “van nêrens na êrens” met hul lewe te gaan en van hul toekoms ’n sukses te maak.
Arnie Africa, die wyk 8-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir bestuursdienste, het Neo Life se René Müller en Portia Kleinsmidt vir hul “uitstekende werk” in die gemeenskap geprys.
Neo Life is ’n niewinsgewende organisasie wat kwesbare ma’s en hul kinders ondersteun en die afgelope sewe jaar loopbaanadvies, berading en ondersteuning by Hawston Sekondêr aanbied.
Terugvoering ná die tyd het aangedui dat die loopbaanuitstalling talle leerders gehelp het om belangrike besluite rakende hul toekoms en moontlike loopbaanrigtings te neem.





