Die De Bos-dam is tans 96,5% vol. Foto: Martin Etsebeth

Die jaar se gemiddelde reënval is kommerwekkend en tonele van die droogte in 2017 laat baie mense bekommerd.

Volgens die Overstrand-munisipaliteit is maar net 472 mm reën van 1 Januarie tot hierdie week gemeet met net 70 mm sedert 1 Augustus. “Die syfers is nogal kommerwekkend aangesien die gemiddelde reënval vir Hermanus 640 mm is,” het die OM gesê.

“Met die feestyd om die draai en mense wat hierdie Desember-vakansie na die Overberg gaan stroom, is die syfers nogal kommerwekkend.”

Selfs die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap is veel laer as verlede jaar. Volgens die Wes-Kaapse departement van water en sanitasie skets damvlakke ‘n somber prentjie teenoor verlede jaar.

Volgens ‘n persverklaring het Wes-Kaapse damme se watervlakke verlede jaar op 94,9% gestaan en vanjaar is dit maar 79,2%.

Volgens die DWS vervul water ‘n groot rol in die ekonomie van die Wes-Kaap. “Die landbousektor maak ook staat op water vir gewasse en lewende hawe, sowel as die vervaardigingsektor waar water gebruik word om goed te vervaardig. Dus gebruik almal water – van huishoudings tot landbou en sakeondernemings, en dis waarom dit so belangrik is om water wys te gebruik,” het die DWS in ‘n persverklaring gesê.

Watervlakke van damme in die Overberg het einde Oktober soos volg gelyk: De Bos by Hermanus (96,5%), Buffelsrivier by Bettysbaai (98,8%), Kraaibosch by Gansbaai (97,8%), Koekemoer by Pearly Beach (100%), Theewaterskloofdam (79,2%) en die Eikenhofdam (95,11%).

Die DWS gee ook die volgende wenke: Stort eerder as om te bad; maak die kraan toe wanneer jy jou tande borsel of skeer; moenie ketels vol water maak nie – gebruik net die hoeveelheid wat jy nodig het, want dit spaar elektrisiteit; moenie die toilet onnodig spoel nie; gebruik eerder ‘n emmer as die tuinslang as jy jou motor was; maak jou tuin vroeg in die oggend of later in die middag nat wanneer dit nie so warm is nie; plante moet ook so gegroepeer word dat die plante wat dieselfde hoeveelheid water moet kry, bymekaar geplant word; plant ‘n waterwys-tuin met plante wat nie baie water nodig het nie en gebruik gryswater om jou tuin nat te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article