Uitgeslape skelms het met ’n slinkse plan vorendag gekom om ’n groot laaigraaf, wat ’n aansienlike bedrag geld werd is, te steel.
Wiaan Bishop, die eienaar van WA Bishop Vervoer, sê die onderneming is deur ’n maatskappy genaamd Linx Trading genader, wat die laaigraaf vir ’n week teen ’n koste van R31 875 wou huur.
Volgens die inligting wat verskaf is, sou Linx Trading as subkontrakteur by Hawston Sekondêr werk doen, waar tans ekstra klaskamers aangebou word.
“Ons het ’n bewys van betaling ontvang en die voertuig het die Maandag by die skool gewerk. Die manne wat met die voertuig gewerk het, het glimbaadjies gedra en tussen die ander konstruksiewerkers beweeg. Die bewys van betaling was egter vals en ons het nooit die geld ontvang nie,” het Bishop vertel.
Die volgende oggend het hy die skokkende nuus ontvang dat die laaigraaf, wat op die skoolterrein geparkeer was, gesteel is.
“Die opsporingstelsel is omstreeks 17:53 verwyder. Mense wat naby die skool woon, het gesê hulle het omstreeks middernag iets wat soos ’n vragmotor geklink het, gehoor.
“Ons vermoed dat die diewe die laaigraaf op ’n platbed-insleepwa, wat gewoonlik deur wegsleepdienste gebruik word, gelaai het,” sê Bishop.
“Ons het die maatskappy wat die voertuig gehuur het die oggend gekontak om hulle in te lig die voertuig is gesteel. Hulle het gesê hulle is op pad na die perseel, maar daarna kon ons hulle glad nie weer telefonies in die hande kry nie.”
Buiten dat die stootskraper baie geld werd is, ly Bishop se maatskappy intussen ook aansienlike verlies aan inkomste uit die verhuring van die voertuig aangesien dit een van slegs twee laaigrawe is wat aan die maatskappy behoort en daar groot aanvraag vir dié soort masjinerie is.
Wat egter die vreemdste is, sê Bishop, is dat die voertuig nog nie op enige kringtelevisiekameras in die omgewing gewaar is nie.
“Niemand het my nog gekontak om te sê hulle het my masjien gesien nie,” het Bishop ontsteld gesê.
Volgens die sakeman het hy verneem van nog ’n maatskappy in Kaapstad wat ook ingeloop is deur skelms wat dieselfde modus operandi gevolg het.
“Gelukkig vir hom het ’n kennis hom gebel en gesê hy het sy masjien agterop ’n vragmotor in George gewaar.
“Die bestuurder van die voertuig was glo glad nie bewus dat die masjien gesteel is nie en het hulle ingelig dat die voertuie op pad na Pietersburg (Polokwane) in Limpopo was.”
’n Saak van diefstal en bedrog word ondersoek.
Enigeen wat die geel BELL 315SL-laaigraaf met die registrasienommer CEM 19704 sien, kan Bishop by 072 616 7338 of die Hermanus-polisie by 028 313 5300 kontak.. Bishop het ’n finansiële beloning uitgeloof vir enige inligting wat daartoe sal lei dat die stootskraper teruggevind word.





