Die twee Overberg-rugbyspanne wat deel van die Boland-top-12 is, het hulle die naweek goed van hul taak gekwyt.
Die verdedigende kampioen van die Sanlam-Boland-Grootuitdaagreeks, Safcol van Grabouw, het Saterdag net-net teen die span van Ceres gewen. Ceres het duidelik na Grabouw gereis om die appelboere skrik te maak deur keer op keer deur Saffies se verdediging te breek.
Ceres se giftige agterlyn het die Saffies-spelers op hul tone gehou en sommer van die afskop af het Ceres gewys hy is ’n span wat die jaar sy merk in die top-12 gaan maak.
Gelukkig vir die verdedigende kampioen en sy kaptein, Benjamin Dwayi, het Ceres ’n strafskop voor Safcol se doellyn afgestaan.
Safcol was gou op die aanval en het in die vierde minuut van die wedstryd ’n drie gaan druk, maar dit is nie toegeken nie aangesien Saffies die bal verloor het.
Die eerste punte is egter kort daarna – in die 13de minuut van die wedstryd – deur Saffies aangeteken nadat Jurich Claasens ’n strafskop deur die pale geklits het.
Daarna het Ceres met ’n strafskop en ’n verdoelde drie teruggeantwoord.
Voor rustyd het die span van Saffies ’n drie gedruk wat ongelukkig nie verdoel is nie en die rustydtelling was 8-10 in Ceres se guns.
Die tweede helfte is gekenmerk deur aanvallende rugby deur albei spanne en Saffies het vroeg in die tweede helfte agter Ceres se doellyn gaan kuier. Nie lank daarna nie het Ceres ook met ’n drie geantwoord en die wedstryd het behoorlik wipplank gery.
In die 70ste minuut het Ceres ’n drie gedruk wat hom 25-23 voor geplaas het, maar Saffies het nie tou opgegooi nie en voordat die eindfluitjie geblaas het, die wendrie – hoewel onverdoel – gedruk, wat die eindtelling op 28-25 te staan gebring het.
Die uitblinkers van die dag was definitief die kaptein en agsteman Benjamin Dwayi, die losskakel Jurich Claasens en die heelagter Jeandre Lukas. . Caledon het Saterdag na Vredenburg gereis en kragte daar teen Vredenburg gemeet en die wedstryd maklik met 32-26 gewen.
Caledon het van die staanspoor af gewys wie is baas en met die meeste balbesit het hy die een drie ná die ander ingeryg.
Dit is duidelik dat Caledon vroeg in die uitspeelwedstryde gewys het dat hy ’n span is wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Voorlangs het die span van Caledon oorheers en sy giftige agterlyn het draaie om die span van Vredenburg gehardloop.
Ander uitslae in die Boland-top-12 was:. Robertson 64-21 Darling;. Young Spurs 16-Saldanha 46; . Abbotsdale 42-36 Eagles en. Newtons 28-29 Villagers.





