Die groep Ferg ‘n Son toer op 26 Desember met sy musiek na Hermanus. Die duo bestaan uit Fergie Ferguson, die legendariese oorspronklike stem agter die groot Ballyhoo-treffer van die 1980’s, “Man on the Moon”, en sy seun, Michael Ferguson, ‘n talentvolle kitaarspeler en sanger in eie reg.
Hierdie genre-kruisende duo, wat popmusiek, rock en country tydloos vermeng, lewer treffende konserte wat gehore laat terugkom vir nog. Verwag hoë-energie-vertonings, ‘n repertorium vol treffers en ‘n musikale reis wat sielvolle musiek uit die boonste rakke opdis.
Fergie, wat in Belfast, Noord-Ierland, gebore is, het sy musikale reis op ‘n jong ouderdom begin deur kitaar te speel en in verskeie musiekgroepe te sing. Hy het op 18-jarige ouderdom – in die vroeë 1970’s – ‘n kontrak onderteken en na Suid-Afrika gekom om saam met ‘n gewilde Ierse musiekgroep op te tree.
Hy het kort daarna ‘n stigterslid van die supergroep Ballyhoo geword – ‘n naam wat sinoniem is met sukses in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
Die treffer-enkelsnit “Man on the Moon” het hulle in 1981 na die bopunt van plaaslike trefferlyste geneem. Ballyhoo het die SA musiektoneel oorheers en altesaam vier oorspronklike ateljee-albums opgeneem. Hulle het ses SARI-toekenning losgesing en word steeds as een van die suksesvolste groepe nog in Suid-Afrika erken. Fergie het ‘n roemryke loopbaan saam met Ballyhoo geniet met optredes oral in Afrika, wat oor 35 jaar gestrek het.
Fergie het sy talentvolle seun, Michael Ferguson, se groei as sanger en musikant dopgehou en in 2024 het hulle kragte saamgesnoer en hul duo-groep, Ferg ‘n Son, gestig. Binne ‘n tydperk van nege maande het Ferg ‘n Son reeds oor die land heen opgetree en ook in Julie in Europa gespeel. Hulle berei hulle nou voor vir die komende It’s in the Blood – Suid-Afrikaanse toer. Fergie woon in die Noordwes-provinsie en bestuur ‘n ateljee uit Hartbeespoortdam as liedjieskrywer en musiekvervaardiger.
Michael vertel: “Ek het grootgeword deur te kyk hoe my pa (in Ballyhoo) optree en ek was altyd in verwondering. Ek het as agtjarige spontaan by ‘n vertoning op die verhoog geklim om saam met hulle te sing. Ek wou so graag deel daarvan wees. Ek het nooit gedink dat ons ná al die jare hierdie duo-vertonings saam sou doen nie. Dit is so ‘n eer – nie net as sy seun nie, maar as kunstenaar – om langs my pa te kan optree. Hy is die een wat my musiek gegee het. Ons geniet dit om saam op te tree tree en ek kan nie wag om ons spesiale musikale band met gehore in Suid-Afrika te deel nie.”
Fergie sê: “Dit gaan wonderlik wees om saam met my seun op die pad te wees. Ons is opgewonde om julle almal by al hierdie wonderlike plekke te ontmoet. ‘n Spesiale dankie aan ons borg ChainEX om hierdie toer moontlik te maak.”
Moenie jou kans misloop om Ferg ‘n Son op die verhoog in een van die dorpe te sien nie.
• Die konsert is by die Hermanus-gholfklub. Besprekings: https://fergnson.io/tour/





