Internasionale maatskaplike werkerdag is op 21 Maart gevier en die kollig het op maatskaplike werkdienste geval.
“Die rol wat maatskaplike werkers op ’n daaglikse grondslag in die samelewing vervul, gaan dikwels met ’n negatiewe verbintenis gepaard en die publiek is meestal onbewus van die onmisbare dienste wat ’n maatskaplike werker in ’n gemeenskap lewer,” sê Christia Potgieter, ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk-dienste-afdeling.
Die maatskaplike werk-dienste-afdeling van Solidariteit Helpende Hand het ’n peiling onder die publiek gedoen om mense se menings oor hierdie beroep te hoor. Volgens die terugvoer van die peiling het die meerderheid mense al met ’n maatskaplike werker te doen gehad, en hoewel die meeste se ervaring positief was, het heelparty mense aangedui hul ervaring met ’n maatskaplike werker was negatief.
Sy sê nog ’n wanpersepsie oor die beroep is dat ’n maatskaplike werker nié oor ’n kwalifikasie hoef te beskik nie – die waarheid is egter dat ’n maatskaplike werker oor ’n vierjaar-graad moet beskik en ook by die Raad van Maatskaplike Werkers (South African Council for Social Services) geregistreer moet wees. ’n Bewusmakingsveldtog is in Maart van stapel gestuur om die publiek van nuuts af aan hiérdie eerbare en noodsaaklike beroep te herinner.
Volg die veldtog op Solidariteit Helpende Hand se Facebook-blad, Instagram en www.helpendehand.co.za.


