Dit is kokke wat vinnig in jou hart kruip. Daar word saam gelag en -gehuil en die teleurstelling word saam met die deelnemers gevoel as hulle uitgestem word.
Dit is ’n prentjie waarmee menige Kokkedoor-kyker hulle kan vereenselwig. Ons het saam liefgeraak vir Tannie Poppie, ons was saam bly vir Pasch en Wilhelmina van Kokkedoor 3 toe hulle met die kroon weggestap het en ons volg steeds vir deelnemers soos Mynhardt en Marinda, en ons het almal geleer by die aanbieder Mari-Louis Guy en selfs resepte van Kokkedoor-deelnemers uitprobeer.
Die vorige reeks, wat in 2019 uitgesaai is, was behoorlik ’n naelbytstryd en dié jaar gaan daar weer ’n reeks wees, en dié reeks word nie soos voorheen in Prins Albert verfilm nie, maar hier in die Overberg in die mooie Struisbaai.
Homebrew Films, die vervaardigers van die reeks, het in Maart bekendgemaak dat hulle besig is met die nuwe Kokkedoor. “Die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks, wat vanjaar weer ’n hoofgereg op kykNET se kykgenot-spyskaart gaan wees, gaan in Kaap Agulhas verfilm word. Produksie van Kokkedoor Vuur & Vlam gaan by Struisbaai-woonwapark plaasvind, waar daar ’n splinternuwe stel gebou gaan word,” het die persverklaring gelui. “In Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braaivaardighede beïndruk. Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.”
Dié produksie gaan definitief ’n finansiële inspuiting vir die Kaap Agulhas-distrik wees aangesien die produksiespan die winkels van Struisbaai en naburige dorpe gaan gebruik. Selfs die Struisbaai-vaardigheidsentrum gaan ingespan word om te help.
Facebook-gebruikers het hul blydskap gedeel en van die inskrywings sê: “Wonderlik, kan nie wag nie.” Crystal Life Water het gesê: “Baie opgewonde om die kykNET-span in ons area te ontvang. Wat ’n voorreg is dit nie. Sterkte met al die voorbereiding, bou van die ateljee en verfilming.”





