Jonathan Abrahams het die Under Construction-boksklub sewe jaar gelede begin en die klub bars behoorlik uit sy nate.


Dis al sewe jaar wat jonk en oud, fikses en dié wat nie so fiks is nie asook rugby- en krieketspelers by die Under Construction-boksklub in Grabouw oefen.

Volgens die stigter van die klub, Jonathan Abrahams, het hy sewe jaar gelede deur ’n baie moeilike tyd gegaan en wou graag oefen om sy gedagtes af te lei. “Ek het by die gimnasium aangesluit, maar dit het nie vir my gewerk nie – ek wou sport doen. Ek wou ook nie aan ’n spansport deelneem nie en het op boks besluit. Toe open ek ’n boksklub en vra vir enige belangstellendes om deel van die klub te wees. Dié klub het letterlik uit sy nate gebars en ek het die visie gekry om die klub as ’n organisasie sonder winsbejag te registreer. Vandag is ons nie net ’n boksklub nie, maar ook ’n nasorgsentrum vir kinders wat van die skool af kom. Ons wil ook ’n sopkombuis op die been bring om die gemeenskap só ook by te staan,” sê Jonathan.

Wat die unieke naam, Under Construction-boksklub, betref, vertel Jonathan die naam is eintlik simbolies aangesien almal maar in aanbou is. “Nie net is ons onder konstruksie met ons eie lewe nie, maar die klub self is ook altyd aan die ontwikkel – van fiksheid tot vaardighede tot die klub self,” vertel hy.

Dit was ’n hoogtepunt vir hom toe die klub sy eerste bokstoernooi op 18 Februarie gehou het. Van die beste boksers in die Overberg het vir die geldinsamelingstoernooi na Grabouw gestroom. Die geld wat tydens die toernooi ingesamel is, is aangewend om die klub ’n hupstoot te gee.

“Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat ons op 8 April ook ’n toernooi gaan hou – die Overberg-kampioenskap – waar boksers van Villiersdorp, Grabouw, Hermanus, Helderstroom-gevangenis en Barrydale kan deelneem. Ons wil graag geld insamel om ’n struktuur op die erf in Rooidakke (Grabouw), wat aan ons geskenk is, aan te bring. Ons klub wil uitbrei en ons sien uit na ’n rooskleurige toekoms,” het Jonathan gesê.. Enigiemand wat dalk by die klub wil aansluit of skenkings wil gee, kan Jonathan by 071 371 5086 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article