Jong opkomende rugbyspelers saam met spelers van die Boland-Kavaliers.

Mariette Strydom

Riviersonderend se rugbyklub het verlede jaar – toe hy na die Boland-stadion gereis het om in die eindstryd van die Boland-top-14 te speel – gewys hy is ’n klub wat nie maklik afgeskryf kan word nie.

Die span het Saterdag (4 Maart) in ’n vriendskaplike wedstryd weer gewys hy kan vriend en vyand hierdie seisoen weer verras nadat hy die Sea Hawks van Arniston 14-10 verslaan het.

Wat vanjaar vir die rugbyklub in Riviersonderend so spesiaal maak, is dat die dorp sy 100-jarige bestaan vier.

“Ons as rugbyklub wil terugploeg in die gemeenskap, en dit is waarom ons verlede Woensdag (1 Maart) ’n rugbykliniek saam met die Boland-Kavaliers gehou het. Dit is belangrik vir ons om ons jeug weg te hou van die euwels wat hulle daagliks in die gesig staar, en een van die beste maniere om dit te doen, is deur sport,” het Peter Philander, die voorsitter van Riviersonderend-rugbyklub, gesê.

Skole van oor die Overberg het Woensdag opgedaag om ’n bietjie touwys gemaak te word deur die professionele spelers en afrigters. Jong opkomende rugbyspelers het om die spelers saamgedrom om nie net van hulle wenke te ontvang nie, maar ook hulle van nader af te leer ken. Die skole teenwoordig was Klipdale Primêr, Bloemenhof Primêr, CL Riviersonderend en Riviersonderend Primêr.

“Ons wil graag almal by Boland-rugbyunie bedank vir die moeite wat hulle gedoen het om na ons dorp te kom. Baie dankie ook aan die Theewaterskloof-munisipaliteit wat op grondvlak gewerk het om ons sportterrein reg te kry vir die dag, Cornelius Botha, Stefan Potberg en Pieter Baartman vir die gazebos Pieter Heskwa en Dennis Palmer vir die veiligheid asook die buurtwaglede en almal wat gehelp het om die dag spesiaal te maak,” het Philander gesê.

Die aand was daar ook ’n spesiale geleentheid gehou waar die nuutverkose president van die Boland-rugbyklub, Bennie van Rooi en die visepresident Willie Small ook teenwoordig was.

Die Riviersonderend-rugbyklub beoog ook om verdere slypsessies aan te bied om hul voor te berei vir die Grootuitdaag-reeks.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article