As dit nie oor vervoerprobleme gaan nie, gaan dit oor gevangenes wat mekaar met kookwater toetakel – dit is wat alles by Helderstroom-korrektiewe dienste buite Caledon gebeur.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement korrektiewe dienste het die voorval wat op 1 Februarie plaasgvind het, bevestig. Volgens hom het twee gevangenesse ‘n ander met kookwater gegooi.
“Die slagoffer en die vermeende oortreders is na die voorval dadelik deur ‘n verpleegster ondersoek wat hulle na Caledon-hospitaal verwys het,” het Nxumalo bevestig. Hy het verder bevestig dat die twee oortreders aan ‘n tugproses ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste onderwerp word.
“As ‘n onmiddellike voorsorgmaatreël is alle ketels uit selle verwyder, en ‘n omvattende risikobepaling is tans aan die gang om die risiko van soortgelyke voorvalle te verminder en verdere beserings aan gevangenes te voorkom,” aldus Nxumalo.
• Intussen blyk dit die vervoerprobleem by Helderstroom is opgelos. Volgens dokumente wat deur die departement van korrektiewe dienste uitgestuur is, is die tye van die busse se vertrek van Caledon, Botrivier en Villiersdorp bevestig. “Ons is baie bly die probleem is darem opgelos en nou kan ons en ons kinders betyds by die skole en werk uitkom,” was die woorde van ‘n beampte.



