Overberg-klubspelers het daartoe bygedra dat die Boland-Kava-liers sy eerste Eerstedivisie-titel suksesvol verdedig het. Erik Lambrecht en Marlyn Williams het onderskeidelik vir Bredasdorp Rangers en Botrivier gespeel.
Die span van die OP het in ’n aksiebelaaide en spanningsvolle eindstryd teen die Kavaliers in die Boland-stadion in Wellington in die modder verdrink.
Nie een van die spanne wou bes gee nie en ná ekstra tyd toe die telling 27 elk gelykop was, het die Kavaliers gewen. Die titel is aan die Kavaliers toegeken omdat dié span meer drieë in die eindstryd aangeteken het – altesaam vyf.
Aan die einde van die wedstryd was die telling 20 elk en ná ekstra tyd was die telling steeds gelykop – 27 elk. Die wen vir Boland-Kavaliers beteken dat die span die reeks onoorwonne afgesluit het.
Oostelike Provinsie verdien egter erkenning vir sy deursettingsvermoë; die span het nooit opgegee nie en dit was slegs vasberade verdediging van die Boland-spelers wat op die ou einde verseker het dat hulle die titel beklink het.
Die toestande was uiters sleg – dit was nat en winderig en die veld was modderig, wat beteken het dat albei spanne baie foute gemaak het, terwyl die druk van ’n eindstryd en die moeë bene aan die einde ook foute afgedwing het.
Die Kavaliers het drie drieë in die eerste helfte aangeteken en dit opgevolg met nog een laat in die tweede helfte, nadat OP teruggeveg het om ’n 17-15-voorsprong te neem.
Met tyd op die horlosie en die gasheerspan wat met drie voorloop, het OP ’n strafskop gekry, wat Jayden Banton suksesvol deur die pale gestuur het om die wedstryd in ekstra tyd in te stuur.
Boland het vroeg in ekstra tyd eerste punte aangeteken met Ashlon Davids wat sy eerste skop van die wedstryd suksesvol oorgeskop het om dit 27-20 te maak.
Maar OP was nog nie klaar nie en het weer gelykop getrek.
Die Kavaliers was bewus van die reëls en dat hulle as kampioene beskou sou word indien die tellings gelykop was, en die span het vasgeklou om die oorwinning te verseker.
Dit was ook ’n spesiale dag vir die Boland-afrigter Hawies Fourie, nadat hy verlede jaar die Premier-afdeling saam met die Cheetahs gewen en dit met nog ’n Eerstedivisie-titel vanjaar opgevolg het.





