Kansa- en biblioteekpersoneel saam met lede van die gemeenskap wat gratis kankersiftingstoetse by die biblioteek ondergaan het.Foto: Mitzi Buys


Dit is nie aldag dat ’n biblioteek in ‘n mediese spreekkamer omskep word nie, maar dit is presies wat gebeur het toe die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) onlangs gratis siftingstoetse by die Caledon-biblioteek aangebied het.

Die vroeë opsporing van kanker is van kardinale belang en kan lewens red en dit is hoekom Kansa gratis siftingstoetse vir prostaatkanker asook borsondersoeke en papsmere aangebied het.

Die leesgebied is in ’n wagkamer omskep, die bloedtoetse is in die kinderafdeling gedoen en die borsondersoeke en papsmere is in die privaatheid van die kantoor gedoen.

Naomi Philander, maatskaplike werker en dienstekoördineerder van Kansa in Paarl sê aan Hermanus Times: “Ons het voorheen ’n Kansa-vrywilliger in Caledon gehad en ons het kankerpasiënte van hier wat by Kansa geregistreer is. My diensarea sluit die Overbergstreek in en daarom het ons besluit om na die Caledon-biblioteek te kom.”

Volgens die nasionale kankerregister is prostaatkanker die mees algemene soort kanker wat by mans voorkom en daarom is dit belangrik dat mans ouer as 40 jaar hulself hiervoor laat toets. Baie mans is huiwerig om dié toets te laat doen omdat hulle nie besef dat ’n PSA-bloedtoets (prostaat-spesifieke antigeen kan bepaal of verdere toetse nodig is. Dit is ’n vinnige proses met ’n opgeleide verpleegkundige wat ’n bloedmonster neem vir latere toetsing in ’n laboratorium.

Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Omdat ons graag bewusmaking oor verskeie onderwerpe in die gemeenskap saai, was ons verheug dat Kansa na ons uitgereik het. Die belangstelling van die gemeenskap was goed en ek is veral bly dat soveel mans ingekom het vir die PSA-toets. Mans hoef regtig nie bang te wees om vir so ’n toets te gaan nie.”

Philander noem dat hulle raad en ondersteuning nie net aan pasiënte bied nie, maar ook aan hul families. “Ons doen afstandsondersteuning en het ook ’n beradingslyn waar opgeleide beraders mense kan bystaan en ondersteun.”

Kontak Kansa by die volgende nommers indien u bystand benodig: Tolvry: 0800 22 66 22; Kansa-kantoor: 021 873 6358; Naomi Philander per WhatsApp: 061 209 9426. Besoek ook die webtuiste by www.cansa.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article