Boodskappe van medelye het ingestroom na die nuus van die bekende oudskoolhoof Edmund Bucchianeri, se dood.
Bucchianeri, alombekend as Meneer Buchs, het Vrydag 20 Januarie in die ouderdom van 72 sy stryd teen pankreaskanker verloor.
Hy is in 1950 in Hawston gebore en het sy laerskoolloopbaan by Hawston Primêr en sy hoërskoolloopbaan by Emil Weder in Genadendal voltooi. Hy het by die destydse Hewit-onderwyskollege sy tersiêre opleiding ontvang voordat hy in die vroeë jare sewentig in sy eerste onderwyspos by sy ou alma mater, Hawston Primêr, aangestel is. Hy het ook vir ’n tyd lank by Swartberg Sekondêr in Caledon onderwys gegee.
In 1995 is die geliefde onderwyser as Hawston Sekondêr se eerste amptelike skoolhoof aangestel. Oor die jare het hy verder gestudeer en onder meer sy BA-graad deur Unisa en sy honneurs en meestersgraad deur die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Hawston Sekondêr het op sy Facebook-blad ’n roerende huldeblyk aan sy oudskoolhoof gelewer. “Hawston Sekondêr neem met ’n swaar gemoed finaal afskeid van ’n besonderse mens, ’n pilaar, een wat help bou het aan die fondasie van die skool, ons ou skoolhoof, soos almal na hom verwys het,” lui die inskrywing.
Na sy aftrede het hy rekenaaropleiding by Overstrand Training Institute (OTI) aangebied.
“Nadat hy by OTI opgehou het, het hy steeds besig gebly totdat hy siek geword het,” vertel sy vrou Dorothy.
Die paartjie was vir 47 jaar getroud en was lief om saam weg te breek na die Weskus, veral Port Owen. “Hy was ’n ware gesinsman en het alles vir my, sy kinders en kleinkinders gedoen.”
Bucchianeri word oorleef deur sy vrou, seuns Glen en Abri, dogter Esti en sy kleinkinders Geo en Tazmin. Sy begrafnisdiens by die huis begin Saterdag 28 Januarie om 09:00 en om 10:00 in St Andrews Anglikaanse kerk.





