Mary-Anne Armoed, ’n bekende en geliefde inwoner van Caledon, is (Donderdag 2 Februarie) slegs 10 dae voordat sy haar 59ste verjaarsdag sou vier, ná ’n lang kankerstryd oorlede.

Mary, soos almal haar genoem het (gebore Martin), is op 12 Februarie 1964 op die plaas Dunghenypark buite Caledon gebore, waar sy skoolgegaan het voordat sy haar skoolloopbaan by Swartberg Sekondêr voltooi het.

Mary was getroud met Sydney Armoed, ’n bekende sakeman, joernalis en fotograaf van Caledon. Armoed sê: “Ons het verlede jaar ons 30ste huweliksherdenking gevier, maar hoe ek Mary leer ken het, is eintlik ’n lang storie. Ek het op ’n plaas buite die dorp gewoon en aan Nelson Booysen genoem ek wil ’n slag kerk toe gaan. Hy het ds. Van der Westhuizen van die VGK na my gestuur, wat my genooi het om in die pastorie te kom kuier. Ek wou net een keer kerk toe gaan, en toe ek wel gaan, sien ek Mary daar en ek besluit ek wil met daardie vrou trou.

“Ek het haar van geen kant af geken nie en sy ook nie vir my nie. Die dominee het dit vir haar genoem en sy het gesê sy sal daaroor bid. Sy het ja gesê. Ons het in die pastorie verloof geraak en is ses maande later getroud. Ons het mekaar in die huwelik leer ken. Dit was ’n geloofstap.

“Die Here het vir my ’n juweel gegee, soos dit geskryf is in Spreuke 31:10 ‘Haar waarde is ver bo korale.’ Ek het die beste tye van my lewe saam met my vrou gehad. Ek sien dit as groot genade van die Here.”

Mary het vir jare as kassiere by verskeie supermarkte gewerk, maar het later by haar man se ondernemings aangesluit.

Sy het die leerlinglisensieklasse by sy bestuurskool behartig, en omdat sy so geduldig was, het sy ’n besonder hoë slaagsyfer behaal. Sy het Armoed ook by die kantoor en koerant bygestaan en was mede-eienaar van die Transoverberg Nuus.

Armoed noem dat Mary ’n skaam en skugter mens was wat lief was vir lees en tuinmaak en baie van blomme gehou het. “Toe ons die huis gebou het, het sy gesê dit moet ’n huis wees waar rus en vrede heers. Hoewel sy vir 16 jaar aan kanker gely het, het min mense dit geweet, want ons is ’n baie private familie, sê Armoed.

“Ek wil net vir die Here dankie sê vir die wonderlike vrou wat Hy vir my gegee het – ’n vrou wat ek nie geken het nie en wat ek in die geloof gevat het. Dankie vir mense wat die Here oor my pad gebring het – mense soos Nelson Booysen en ds. Van der Westhuizen.”

Armoed sê hulle het “ongelooflike diens” by plaaslike dokters gekry. “Ek het die grootste respek vir die dokters in Caledon. Sy was gereed om te gaan. Sy het vrede in haar hart gehad,” sê Armoed.

Mary word oorleef deur haar moeder, Dorothea Martin (80), haar eggenoot Sydney, kinders Deviena Syce, Enslin Armoed, Bernado Stephanus, Carllyn Cloete en Chantell Armoed, 10 kleinkinders en twee susters en ’n broer.

Die begrafnis vind Saterdag 11 Februarie van die VGK Caledon plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article