Vir 15 jaar al leef hy sy passie as kaasmaker uit, en vandag pluk hy die vrugte van sy harde werk.
Clement October (34), die hoofkaasmaker van Klein River Cheese in Stanford, het by die Suid-Afrikaanse Suiwel-toekennings die Inaugural Hollard Game Changer-eerbewys gewen. Die toekenningsaand is op 25 April in Durbanville gehou en Clement was baie verbaas toe die eer hom te beurt geval het.
“Dit is ’n eer en ’n voorreg om die prys te wen,” het Clement gesê. “Ek sou dit nie reggekry het as dit nie vir my mentors was nie. Ek hoop ek kan ander ook – veral in ons bedryf – inspireer, want ek glo die suiwelbedryf is ’n kragtige bedryf waar veranderings kan plaasvind.”
Hy was maar net 19 jaar oud toe hy by Klein River Cheese begin werk het en vir 12 jaar het hy nie net onder die beste kaasmakers nóg gewerk nie, maar ook sy pad vorentoe oopgewerk, en vandag is hy die hoofkaasmaker. “Ek is die afgelope drie jaar hoof van die kaasmaker-afdeling,” vertel hy trots. Onder sy leiding het Klein River Cheese agt Suid-Afrikaanse kampioenskappe, drie Qualité-pryse en 10 medaljes by die Wêreld-kaaskampioenskap gewen.
Met al die pryse op sy kerfstok bly hy nederig en glo daaraan om aan te hou groei.
“Ek is in hierdie stadium besig om my tegniese en artistieke kaasmaakkennis en -vaardighede uit te brei,” vertel hy trots.
Hy het ook onlangs sy opleiding in kaas- en bottermaak voltooi en is besig om sy “Dairyman: Ripened Cheesemaker”-kwalifikasie te verwerf. Wat sy toekomsplanne betref, wil Clement graag die jeug ophef en is hy verantwoordelik om jong talent te identifiseer en in die kaasmaakbedryf op te lei.





