In die vorige onderhoud het ons oor hoop gepraat. Voel jy julle gee mense hoop? Ek is seker ons doen. Ons het dit in die jaar sedert ons amptelik bekend gestel is, reggekry om met ‘n hele paar gemeenskapsorganisasies en individue, wat in hul gemeenskappe met opheffingswerk of hoop-gee-projekte betrokke is, vennootskappe vir netwerke te vorm.
Wat is die Kaapse Forum se betrokkenheid by die vissersgemeenskappe? Ons het ‘n dokumentêr “Tussen die duiwel en die diep blou see” vervaardig, waarin ons lede van die vissersgemeenskappe van die Weskus tot in Hawston se verhale vertel – verhale wat hoofsaaklik sentreer oor die ellende wat veroorsaak word deur die regering se politiekery met die FRAP (Fishing Rights Allocation Process) se kwotatoekennings. Ons ondersteun ook tans iemand in Kleinmond met ’n hofsaak.
Julle is ook baie betrokke by rugby. Hoekom? Ons het spesifiek rugby as ’n sport om by betrokke te raak geïdentifiseer omdat rugby seker die grootste sport in die Wes-Kaapse plattelandse gemeenskappe is – veral in die Afrikaanssprekende en bruin gemeenskappe. Ons het ons dit ten doel gestel om ’n versterkingsrol in daardie gemeenskappe te vervul. Dit is ’n geleentheid om ons voetspoor deur een fokusarea te verbreed. As jy by ’n rugbyklub betrokke is, is jy by die gemeenskap betrokke. Ons het die Top-12 -gholfhemde vir die Caledon-rugbyklub geborg en ook met die Boland-rugbyunie ’n ooreenkoms aangegaan om te help borg aan die Top-14- en Top-18-spanne se gholfhemde. As iemand by klubs betrokke is, hou dit hulle uit die strate en weg van euwels. Daarmee saam bou jy jou selfbeeld, selftrots en hopelik ook temperament.
Vertel my van jul betrokkenheid by die Hoërskool Emil Weder in Genadendal? Nadat Deon Potberg my genader het om leerders van dié skool toe te spreek, het ’n goeie verhouding tussen die skool en die Kaapse Forum ontstaan en gegroei, en is ons by verskeie projekte betrokke, waaronder die Wolkskool-projek. As susterorganisasie van Afriforum is die Kaapse Forum dan by implikasie deel van die groter Solidariteit-beweging. Solidariteit se Skoleondersteuningstelsel het ’n Wolkskoolprojek wat die hele leerplan vir alle grade in kort videoformaat aanbied. Die skool wil ook ‘n groentetuin aanlê en ons oorweeg ’n watertoevoerstelsel in samewerking met Barend Uys, wat die interkulturele skakeling by Afriforum behartig. Ons beplan om In samewerking met die departement van landbou, spesifiek Jan Odendal, ter viering van die skool se 85ste bestaansjaar bome by die skool te plant. Jy kan net betrokke raak as ’n bereidwilligheid by die betrokkenes bestaan om jou te verwelkom. Ons wil nie jou projek oorneem nie – ons kom om jou aan die hand te vat. Vir my heers ’n opgewondenheid om saam met Anthea Adonis, die eerste vroulike skoolhoof van Emil Weder, te werk, want sy het al ongelooflik baie by dié skool vermag.
Julle staan ook die onlangs aangekondigde Raswetgewing teen? Kaapse Forum en Solidariteit het ’n petisie by die parlement ingedien om te sê ons is nie gelukkig oor die potensiële implikasies van die konsepregulasies nie. In kort, dit kan veroorsaak dat mense uit diens gestel word en dit gaan vereis dat spesifiek bruin vroue se getalle in sekere sektore moet verminder, en daar gaan dit veral om die landbousektor, ’n sektor wat vir ons streek baie belangrik is. Dis nie politiek nie – dis die werklikheid van landswette, en ons wil ’n stem wees wat die ongeregtigheid uitwys. Een van ons doelwitte is om die historiese en hedendaagse vervreemding van bruin mense uit te wys.
Is die Kaapse Forum inklusief? Ja, ons is daar vir alle Wes-Kaapse gemeenskappe. Ons wil mense aanmoedig om ons te kontak. Ons draai nie weg nie; ons sal kom kyk en luister. Ons het kundigheid om te gee, ons het toegang tot wat ook al die behoefte mag wees en ons kan moontlik ’n fasiliteringsrol speel.





