In vandag se tyd waar klantediens nie meer aan die orde van die dag is nie, is dit verblydend om te weet dat sekere instellings steeds uit hul pad sal gaan om die beste diens moontlik aan klante te lewer.
’n Inwoner van Agulhas vertel van haar ondervinding: “Die mense van die Overstrand, Overberg, Haasvlakte en Kaap Agulhas lê my na aan die hart. Sou iemand my vra om iets te skryf oor die juwele van die omgewing, sou ’n mens dink dat ek natuurjuwele soos die grot by Waenhuiskrans (Arniston), die Lighuis in Agulhas, die Hotagter-huisies en hawe in Struisbaai, en die dorpie Elim sou beskryf, maar nee . . . ek wil skryf oor die menslike juwele van die Overstrand.”
Dit was die woorde van Essie Esterhuyse oor hierdie merkwaardige omgewing.
“Ek gaan geen name noem nie, want dit sou onregverdig wees. Ek het onlangs die tweede knievervanging in die Mediclinic Hermanus ondergaan. Van die eerste ondersoek was ek beïndruk deur die vriendelikheid en professionaliteit van die ortopediese chirurg, sy verpleegsuster en sy kantoorpersoneel. Daarna het ’n besoek aan ’n internis, X-strale en bloedtoetse gevolg. En toe ’n besoek aan die Care Expert-suster . . . Steeds styg my waardering vir almal se professionele gedrag, liefde en vriendelikheid. Hulle het omgesien na alle toestemmings van die siekefonds. Ek het presies geweet watter prosedures gevolg gaan word. Die personeel in die waakeenheid, die hospitaal en die narkotiseur was almal uitstekend en professioneel.”
Volgens haar het sy tot die slotsom gekom dat een ding al hierdie mense saamsnoer, “en dis die liefde van God en die liefde vir God. Jy kan nie soveel liefde uitstraal as jy nie in God glo nie. Baie, baie dankie vir al jul liefde. Ek sal julle nooit vergeet nie. Julle is die juwele van hierdie gebied.”




