Jukskei is ’n sport wat die afgelope tyd in die Overberg baie groei getoon het en gaan gepaard met groot pret en baie plesier.
Só ’n dag is verlede Saterdag weer op die Groenberg-jukskeibane in Sandbaai gehou.
Die Groenberg-jukskeiklub se lede rig al ’n geruime tyd leerders in die Hermanus-omgewing af, en dit word al hoe gewilder.
“Die gehalte van die spel onder die leerders het sodanig verbeter dat van hulle dalk binnekort op ’n hoër vlak sal kan begin deelneem. Jukskei is reeds een van die sportsoorte wat deel is van die interskole,” het Johan Theron, wat aan die stuur staan om jukskei onder skoliere te bevorder, gesê.
Theron praat ook met lof van die kinders se positiewe gesindheid asook die goeie samewerking wat die ouers en onderwysers verleen.





